On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Skaapskeerdemonstrasie bring landbou na stadskinders

───   05:00 Tue, 18 Mar 2025

Skaapskeerdemonstrasie bring landbou na stadskinders | News Article
Foto: Bloemskou/Facebook

’n Opwindende skaapskeerdemonstrasie by Martie du Plessis-skool in Bloemfontein het ‘stadskinders’ blootgestel aan die wêreld van landbou en wolproduksie.

Hierdie opvoedkundige geleentheid is deel van die aanloop tot die Bloemskou, wat van 25 April tot 3 Mei plaasvind. 

Elmarie Prinsloo, hoof uitvoerende beampte van Bloemskou, het die belangrikheid van hierdie inisiatief beklemtoon. “Dis vir ons ’n ongelooflike voorreg om opvoedkundige sessies met kinders te deel, sodat hulle kan verstaan waar wolprodukte vandaan kom. 

“Baie kinders het nog nooit ’n lewende skaap gesien nie, wat hierdie ervaring vir hulle uniek maak.”

Die demonstrasie het gewys hoe skape geskeer word en hoe wol verwerk word van sy ru-vorm tot die finale produk, soos truie en serpe. Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) speel ’n belangrike rol in die aanbieding van hierdie opleidingsessies.

Piet Botha, adjunkhoof van Martie du Plessis Skool, het die waarde van hierdie ervaring vir leerders beklemtoon. 

“Dis ’n wonderlike geleentheid om ons kinders aan landbou bloot te stel. Ons het ’n vak genaamd landboutegnologie, waar kinders leer oor tegniese vaardighede wat op plase toegepas word.”

Herman Maartens van OVK het die kinders ingelig oor die proses van skaapskeer en die tegnieke wat gebruik word om skape gemaklik te hou tydens die skeerproses. “Skaapskeer is nie net ’n noodsaaklike landboupraktyk nie, maar ook ’n sport, en Suid-Afrikaanse skeerders neem gereeld internasionaal deel aan kompetisies.”

Die skaapskeerdemonstrasie is ’n voorbrand vir die Bloemskou se Nasionale Skaapskeerkampioenskap, waar die Suid-Afrikaanse span gekies sal word vir die Wêreldkampioenskap. Besoekers aan die Bloemskou kan hierdie kampioenskap bywoon op die eerste Vrydag en Saterdag van die skou.

Hierdie opvoedkundige projek het ook ander skole besoek om meer kinders bloot te stel aan die wêreld van wolproduksie en skaapskeer. Bloemskou en NWKV hoop om deur hierdie inisiatiewe landboukennis te bevorder en werksgeleenthede in die bedryf aan te moedig.

OFM Agri/Johan Gunter mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.