On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Grysblaarvlek versprei na Hoëveld, ook waargeneem in Sentraal SA

───   05:00 Thu, 13 Mar 2025

Grysblaarvlek versprei na Hoëveld, ook waargeneem in Sentraal SA | News Article
Foto: ProAgri

Mielieprodusente op die Hoëveld het tot onlangs min aandag aan grysblaarvlek geskenk, aangesien die siekte meestal in KwaZulu-Natal en die Laeveld voorkom. Hierdie situasie is egter besig om vinnig te verander.

“Onlangs het ek mielielande naby Middelburg in Mpumalanga besoek wat swaar deur grysblaarvlek geraak is,” sê Hanlie Geldenhuys, ’n rygewaskenner by Syngenta Suid-Afrika.

“Dit bevestig dat die siekte in die noordelike dele van die land tot ’n ekonomies-beduidende probleem ontwikkel.” Grysbaalvlek is ook reeds in Noordwes, die Vrystaat, en selfs in besproeiingsmielies in die Noord-Kaap en Limpopo waargeneem, afhangend van seisoenale toestande.

Wat is grysblaarvlek?

Onder gunstige omstandighede is grysblaarvlek een van die mees vernietigende blaarsiektes op mielies. Dit kan oesverliese van tot 70% veroorsaak deur die verlies aan fotosinterende blaaroppervlak, wat graanvulling belemmer. 

Wanneer mielieplante suikers uit hul stamme onttrek om die koppe vol te maak, verhoog dit vatbaarheid vir stam- en wortelvrot, wat kan lei tot omvallende plante en lae skepelgewigte.

Die swam oorleef op mieliereste en stel gedurende die lente groot hoeveelhede spore vry wat deur wind en reën versprei word. Navorsing toon dat hierdie spore tot 40 km ver kan versprei, afhangend van windspoed. Die siekte floreer onder lang periodes van hoë humiditeit en matige tot hoë temperature (22 °C tot 30 °C).

‘Kenmerkende reghoekige letsels’

Die eerste simptome – klein speldekopgrootte vlekkies met ’n geel rand – verskyn op die onderste blare 10 tot 12 dae na infeksie. Hoewel simptome dikwels rondom die pluimstoot- of baardverskyningstadium sigbaar raak, kan infeksie vroeër plaasvind. 

Die siekte se kenmerkende reghoekige letsels brei uit en smelt saam, wat uiteindelik lei tot die vrystelling van spore wat na boonste blare en naburige plante versprei.

Voorkoming en beheer

Vir die huidige seisoen is dit reeds te laat om grysblaarvlek doeltreffend te beheer, behalwe in lande wat nog in bestuiwing is. In sulke gevalle kan swamdoders tot by die groenmielie- of R3-stadium toegedien word, mits dit ekonomies sin maak.

Indien grysblaarvlek hierdie seisoen waargeneem is, is dit waarskynlik dat dit volgende seisoen weer ’n probleem sal wees. “Teen die tyd dat simptome sigbaar is, het die siekte reeds skade aan jou opbrengs en wins aangerig,” waarsku Geldenhuys.

Produsente moet wisselbouprogramme en bewerkingspraktyke aanpas om siekterisiko te verminder. Omdat mielies die enigste gasheer vir grysblaarvlek is, kan wisselbou die siektedruk aansienlik verminder.

‘Produkte beskerm die plant se boonste blare’

Bewaringsbewerking kan egter ’n habitat vir grysblaarvlekspore skep, aangesien die swam vir jare op oesreste kan oorleef totdat toestande weer gunstig raak.

Swamdoders speel ’n belangrike rol in ’n geïntegreerde benadering tot siektebeheer. Hierdie produkte beskerm die plant se boonste blare tydens die reproduktiewe stadium, wat noodsaaklik is om suikerproduksie en skepelgewig te handhaaf.

Hoewel nuwe chemiese produkte skaars is, bied vooruitgang in swamdodertegnologie effektiewe oplossings. Syngenta se MIRAVIS Neo, wat in 2021 bekendgestel is, het bewese sukses in die beheer van grysblaarvlek. 

‘Doeltreffendheid van swamdoders hang af van verskeie faktore’

Tog beklemtoon Geldenhuys dat tydige en korrekte toediening van kardinale belang is. “Die regte swamdoder op die verkeerde tyd sal nie die probleem oplos nie en kan skade vererger,” waarsku sy.

Die doeltreffendheid van swamdoders hang af van verskeie faktore, insluitend tydige toediening, siektedruk, gewasvatbaarheid, en omgewingstoestande.

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.