On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Bewaringslandbou: Pas self aan, moenie wag vir ander

───   ELZETTE BOUCHER 13:45 Wed, 12 Mar 2025

Bewaringslandbou: Pas self aan, moenie wag vir ander | News Article
Die Brit Paul Temple, adjunkvoorsitter van die Global Farmer Network. Foto: OFM

Sonder die bereidwilligheid en vermoë om landboupraktyke volhoubaar aan te pas vanaf voetsoolvlak tot die beleidsraamwerk, sal die bedryf nie kan floreer in ’n veranderende wêreld nie.

Die Brit Paul Temple, adjunkvoorsitter van die Global Farmer Network, het as hoofspreker by Graan SA se kongres op NAMPO Park buite Bothaville vertel hy het reeds met Brexit besef hy moet self sy landboupraktyke aanpas en nie op ander wag nie.

Hy maan Britse boere moes drastiese veranderings maak om te oorleef ná die land se uittrede uit die Europese Unie. “Ek het geweet ek gaan nie meer die subsidies ontvang wat ek voorheen gekry het nie. Ons marktoegang tot Europa het verander, wat beteken dat ons in direkte mededinging met ander lande staan. Dit het my gedwing om my boerderypraktyke aan te pas.”

Een van die grootste besluite wat Temple geneem het, was om oor te skakel na bewaringslandbou. Voorheen het hy ’n hoë-bewerkingstelsel gebruik wat ploeg, kragtoerusting en plantmasjiene behels het. Hoewel hierdie metode hoë oeste gelewer het, was dit duur en energie-intensief.

@ofm.agri Die hoofspreker by vandag se Graan SA kongres, Paul Temple, van die Global Farmer Network, meen mens moet self hand aan die ploeg slaan om boerderypraktyke aan te pas in 'n veranderende wêreld. #GSACongress25 #GSAKongres25 ? original sound - OFM Agri

“Ek het gevoel ek sal nie hierdie vlak van belegging in die toekoms kan volhou nie. Die oorskakeling na bewaringslandbou was nie maklik in ons maritieme klimaat nie, maar dit het my denke oor grondgesondheid verander. Biologie het ’n baie belangrike rol begin speel in ons benadering.”

Nog ’n belangrike besluit was of hulle in die veeboerdery moes aanbly of uittree. Temple het besluit om te bly en sy kudde te vergroot. Hy gebruik nou ’n Amerikaanse saamgestelde beesras genaamd Stabilisers, wat maklik kalf, minder arbeid vereis en geskik is vir die landskap wat hy bewerk. “Hierdie veranderinge het beleggings vereis, maar ek het na die langtermyn gekyk.”

Temple het ook kritiek uitgespreek oor die kompleksiteit van omgewingskemas en die rol van nie-regeringsorganisasies wat onnodig stelsels kompliseer. Volgens hom is die administrasie van hierdie programme omslagtig en lewer dit nie volhoubare voordele nie.

Paul Temple spreek die gehoor toe by die Graan SA kongres. Foto: OFM

“Vir die eerste keer in my lewe kan ek nie die vorms invul nie. Miljarde pond gaan in hierdie skemas in, maar dit lewer geen blywende omgewingsvoordele nie.”

Hy het verder genoem dat ná afloop van ’n 12-jaar omgewingskema, die grond onmiddellik na die ou probleme teruggekeer het. “Dit behoort vir boere makliker te wees om die balans te handhaaf en verantwoordelikheid te neem.”

Brittanje se benadering tot landboubeleid gekritiseer

Temple het Brittanje se benadering tot landboubeleid gekritiseer en die regering versoek om meer konsekwent te wees. Hy het beklemtoon boere benodig toegang tot moderne tegnologie, veral omdat invoer uit ander lande toegelaat word wat hierdie tegnologie gebruik. 

“Ons vra net vir konsekwentheid en dat die regering nie omgewingsverantwoordelikheid na ander lande uitvoer nie.”

Temple se boodskap is duidelik: Boere moet aanpas, innovasie omarm, en regerings moet ’n meer realistiese en praktiese benadering tot landboubeleid volg om die toekoms van die landbousektor te verseker.

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.