Agriculture
AMT-ontleding: Witmieliepryse styg skerp, slagpryse stabiel─── 05:00 Wed, 12 Mar 2025

Hoewel mielie-aanplantings in die VSA kan toeneem, kan weersomstandighede ’n risiko inhou wat pryse moontlik verder kan opdruk.
Dr. Johnny van der Merwe, AMT-ontleder, meen plaaslik bly daar druk op die vleismark, maar pryse toon tekens van stabilisering.
“Die komende USDA-verslag en internasionale markdinamika sal ’n sleutelrol speel in die rigting van graan- en vleispryse oor die volgende paar maande.”
Die plaaslike graanmark toon tans beduidende prysbewegings, met witmielies wat skerp styg en ander gewasse wat onder druk bly. Die witmieliespotprys het hierdie week dramaties gestyg tot R6 235 per t, wat ongeveer R2 000 per t hoër is as die Julie 2025-kontrakprys.
Daarteenoor het die Julie 2025 witmielieprys gedaal na R4 210 per t. Geelmieliepryse het ook gestyg na R4 895 per t, terwyl die Julie 2025-kontrak gedaal het na R4 050 per t.
‘Koring toon ’n styging’
Sojaboonpryse bly onder druk met die spotprys wat tans op R8 350 per t staan, terwyl die Mei 2025-kontrakprys gedaal het na R7 565 per t. Die sonneblom-spotprys het verder gedaal na R8 870 per t, met die Mei 2025-prys op R8 767 per t.
Koring toon egter ’n styging, met die spotprys op R6 145 per t, hoewel die Desember 2025-kontrak effens laer is teen R6 214 per t. Die sorgum-invoerpariteitsprys, gelewer in Durban, staan tans op R4 965 per t.
Uitgedopte Argentynse grondbone bly stabiel teen R20 873 per t, terwyl die katoen-invoerpariteitsprys onder druk is op R9 970 per t.
Internasionale markte en invloede
“Internasionaal bly graanpryse uiters onstabiel, met CBOT-pryse wat die swaarste getref word. Twee faktore wat die mark tans beïnvloed, is die nuutste USDA-verslag wat binnekort vrygestel word en China se vraag na landbouprodukte,” vertel Van der Merwe.
Geskiedkundige data wys China voer gedurende hierdie tyd van die jaar tradisioneel meer landbouprodukte vanuit Suid-Amerika weens laer pryse in vergelyking met die VSA. “Die USDA se finale aanplantingsintensies-verslag aan die einde van die maand sal ’n belangrike aanduiding gee van toekomstige aanbod en pryse.”
Hy voeg by weersomstandighede in die VSA bly ’n risiko, met moontlike laat someraanplantings wat mielieproduksie kan beperk en sojapryse verder onder druk kan plaas. “In Zambie verwag owerhede ’n mielie-oes van tussen 3,5 en 4 miljoen t, maar lae strategiese reserwes en die komende verkiesing beperk waarskynlik uitvoere, wat weer ondersteuning aan plaaslike pryse kan bied.”
Plaaslike vleispryse toon gemengde beweging
Die nuutste speenkalfprys vir kalwers tussen 200 en 250 kg het verder gedaal na R33,53 per kg. Direkte handverkope se pryse het ook afgeneem na R34,95 per kg.
Ligter kalwers het egter effens gestyg na R33,58 per kg, terwyl swaarder kalwers nou op R32,78 per kg verhandel. Die Vrystaat handhaaf goeie vlakke op R35,10 per kg, terwyl Noordwes sywaarts beweeg op R33,40 per kg.
‘Slagpryse is relatief stabiel’
Slagpryse is relatief stabiel met die A2/3-karkasprys op R55,27 per kg en die C-graadprys laer op R46,91 per kg. Dragtige koeie het gemiddeld R13 894 per kop behaal, terwyl koeie met kalwers op R13 672 per kop verhandel het. Die gemiddelde bulprys het egter gedaal na R19,81 per kg.
Stoorlampryse het met 1,5% gestyg na R41,47 per kg, terwyl slaglampryse hoër is op R42,49 per kg. In die Vrystaat het die stoorlamprys skerp gestyg na R43,67 per kg, met die Oos-Kaap se prys op R40,67 per kg.
Die A2/3-slagprys bly hoog op R99,73 per kg, terwyl die C2/3-prys effens gedaal het na R64,81 per kg.
Ander landbouprodukte
Die RWS-skoonwolprys het laas week gestyg na R179,82 per kg, terwyl nie-RWS-wolpryse R176,59 per kg bereik het. Australiese wolpryse het met 2,5% gestyg na AUD12,25 per kg weens sterk kompetisie tussen kopers.
Hoenderpryse het herstel na die vorige week se daling, met gevriesde abattoirpryse hoër op R33,10 per kg. Vars hoender het skerp gestyg na R36,82 per kg, terwyl IQF-pryse op R33,29 per kg bly. Varkpryse bly stabiel, met die nuutste spekvarkprys op R32,38 per kg en worsvarkpryse wat effens gestyg het na R25,78 per kg.
Bokpryse het die afgelope week gestyg, met groot bokke op R36,53 per kg, klein bokke op R52,10 per kg, en medium bokke op R49,62 per kg. Bokooipryse is hoër op R40,62 per kg. Lusernpryse bly konstant, met graad 1-lusern op R3 100 per ton.
OFM Agri mvh