On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

AgriSeker vier dekade van groei en stabiliteit

───   05:00 Tue, 11 Mar 2025

AgriSeker vier dekade van groei en stabiliteit | News Article
AgriSeker. Foto verskaf

“Ons het moeilike tye saam met boere beleef – van droogtes tot uiterste haelstorms – maar ons het deurgedruk en kon steeds ’n betroubare diens lewer,” vertel Reinhard Kuschke, besturende direkteur van AgriSeker, oor die maatskappy se tienjarige reis.

AgriSeker funksioneer as ’n onderskrywingsbestuurder vir die Landbank Versekeringsmaatskappy en het oor die jare verskeie nuwe dienste en produkte ontwikkel om boere se behoeftes te ondersteun, veral rondom oesversekering. 

Hy het die afgelope dekade as ’n tyd van groei, uitdagings en volgehoue ondersteuning aan die landbougemeenskap beskryf. “Ons is baie geseënd deur die afgelope tien jaar.”

Kuschke beklemtoon AgriSeker se finansiële stabiliteit en die Landbank Versekeringsmaatskappy se ondersteuning speel steeds ’n groot rol in die maatskappy se sukses. “Ek is trots op my span wat hierdie reis saam met my aangepak het. Ons het baie geleer en is gereed vir die volgende tien jaar.”

Internasionale kundigheid en erkenning

AgriSeker was onlangs teenwoordig by die International Loss Adjusters-seminaar in Kaapstad, aangebied deur Santam Agri. Volgens Kuschke was dit ’n waardevolle geleentheid om Suid-Afrika se oesversekeringspraktyke met internasionale standaarde te vergelyk.

“Ons het niks om weg te steek nie. Die terugvoer van internasionale herversekeraars bevestig dat ons prosesse en kundigheid op internasionale vlak is. 

“Dit gee ons die gemoedsrus dat ons verliese korrek hanteer en takseer.”

’n Seisoen van uiterstes

Kuschke beskryf die huidige landbouseisoen as ’n seisoen van uiterstes. “In die oostelike saaistreek was daar aanvanklik uitdagings met vestiging van gewasse weens droë toestande, terwyl daar in die noordelike provinsies soos Thabazimbi twee vloede in een seisoen was – iets wat ongehoord is.”

Tog was die haelaktiwiteit hierdie jaar laer as verwag, wat deels te danke is aan die tropiese reënpatroon wat gevestig het. “Ons het uiteindelik wydverspreide reën gehad, veral in die noordelike dele, en die risiko-aktiwiteit in Februarie, wat normaalweg ’n hoë risiko tydperk is, was baie besadig.”

Voorbereiding vir die toekoms

AgriSeker is reeds besig met die voorbereiding vir die nuwe seisoen en werk aan die ontwikkeling van alternatiewe versekeringsprodukte. “Ons fokus is op die uitbou van dekking opsies soos die Multi-Peril Crop Insurance (MPCI) en ons loodsprojekte is reeds deur die reguleerder goedgekeur,” sê Kuschke.

Hy voeg by die maatskappy kalibreer en pas deurlopend sy interne prosesse aan om te verseker dat boere die beste moontlike diens ontvang. 

“Die resep wat ons die afgelope tien jaar gebring het tot waar ons vandag is, gaan ons nie verander nie. Ons is gereed vir die volgende jaar – en die volgende dekade.”

OFM Agri mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.