Agriculture
Bloemskou se suiwelbeoordeling kry weereens rekordgetal inskrywings─── 05:00 Mon, 10 Mar 2025

Bloemskou het Woensdag (5/3) sy jaarlikse suiwelprodukbeoordeling aangebied, ’n geleentheid wat die tweede grootste van sy soort in die land is.
Elmarie Prinsloo, hoof- uitvoerende beampte van Bloemskou, vertel die kompetisie het ’n rekordgetal van 408 inskrywings gelok, ’n merkwaardige toename vanaf verlede jaar se 320. Suiwelmaatskappye en fabrieke van regoor die land het ’n wye verskeidenheid produkte ingeskryf, insluitend melk, kaas, jogurt, maaskaas, en selfs sappe met melkbyvoegings.
“Ons is ongelooflik dankbaar vir die oorweldigende ondersteuning van die suiwelbedryf,” sê Prinsloo. “Dit is ’n bewys van die hoë standaard van suiwelprodukte wat in Suid-Afrika vervaardig word.”
’n Paneel van 20 beoordelaars, bestaande uit verteenwoordigers van groot suiwelmaatskappye, bekende sjefs, en kenners van die Universiteit van die Vrystaat, het die produkte anoniem beoordeel. Hierdie anonieme proses is van kardinale belang om ’n regverdige en objektiewe beoordeling te verseker.
“Die beoordelaars het die produkte letterlik geproe en beoordeel op grond van hul kwaliteit, smaak en tekstuur. Dit is ’n waardevolle geleentheid vir suiwelmaatskappye om hul produkte met dié van hul mededingers te vergelyk.”
Die verskeidenheid inskrywings was indrukwekkend, met produkte wat nie net van koeimelk gemaak is nie, maar ook van bok- en skaapmelk. Dit beklemtoon die kreatiwiteit en innovasie in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf.
Rekordgetal inskrywings
“Dit is ongelooflik om te sien hoeveel verskillende suiwelprodukte daar is. Dit is ’n bewys van die veelsydigheid van melk as ’n rou produk.”
Die Bloemskou se jaarlikse suiwelkompetisie het nie net ’n rekordgetal inskrywings gelok nie, maar ook ’n blik gebied op die streng kwaliteitstandaarde en voortdurende innovasie in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf.
Belangrikheid van beoordelingsproses
Magdalene Otto, hoof: landbou-, voedsel- en kwarantyntegnikus by die departement van landbou, beklemtoon die belangrikheid van die beoordelingsproses.
“Die suiwelbedryf in die land is tans in ’n baie goeie toestand. Daar is ’n groot verskeidenheid suiwelprodukte wat bemark word, en die produkte wat vandag geëvalueer word, is van ’n baie hoë standaard.”
Otto, wat al meer as tien jaar deel is van die beoordelingspan, lig die jaarlikse verbetering in produkkwaliteit en -aanbieding ook uit.
Objektiewe evaluering
“Elke jaar sien ek nuwe produkte en ’n verbetering in die gehalte en aanbieding van die produkte. Die anonieme beoordelingsproses verseker ’n objektiewe evaluering, wat waardevolle terugvoer aan produsente en vervaardigers bied.”
Die departement van landbou speel ’n deurslaggewende rol in die evaluering van produkte volgens die suiwelregulasies.
“Ons kyk na die kwaliteit van die produkte, soos sout- en vetinhoud, om te verseker dat dit geskik is vir bemarking en verbruik. Die wetgewing is daar om te verseker dat produkte aan hoë standaarde voldoen.”
Natalie Thersby, voorsitter van die suiwelkomitee, beklemtoon die groeiende gewildheid van die kompetisie.
“Ons het inskrywings van groot verskaffers, landbouskole, en selfs individuele produsente. Die feit dat ons vanjaar 408 inskrywings ontvang het, is ’n bewys van die groeiende belangstelling in die kompetisie.”
Sy lig ook Bloemskou se rol as ’n belangrike platform vir die suiwelbedryf uit. “Bloemskou is ’n groot aantrekkingskrag vir Sentraal-Suid-Afrika, en dit bied ’n uitstekende geleentheid vir produsente om hul produkte te vertoon en erkenning te kry.”
Die kompetisie het ’n wye verskeidenheid suiwelprodukte ten toon gestel, van tradisionele produkte soos melk en kaas tot meer innoverende produkte. “Die suiwelbedryf is nog steeds ’n belangrike deel van almal se daaglikse dieet. Die produkte wat vandag beoordeel is, is ’n bewys van die voortdurende innovasie en verbetering in die bedryf.”
Vir verbruikers bied die beoordeling ’n betroubare gids tot die beste suiwelprodukte op die mark. Bloemskou sien uit daarna om die uitslae van die suiwelprodukbeoordeling binnekort bekend te maak, en nooi almal uit om die skou by te woon om die beste suiwelprodukte te kom proe wat Suid-Afrika het om te bied.
Die jaarlikse Bloemskou word vanjaar vanaf 25 April tot 3 Mei aangebied.
OFM Agri/Johan Gunter cg/mvh