Agriculture
Voëlgriep-gevaar in Suid-Afrika bly hoog─── 05:00 Mon, 03 Mar 2025

Ná onlangse berigte dat nog ’n uitbreking van voëlgriep in Suid-Afrika onafwendbaar is, het Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die braaikuikenafdeling by die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, die ernstige risiko’s bevestig.
Hy waarsku Suid-Afrika het weens migrerende voëls vanuit Europa ’n hoë waarskynlikheid van ’n nuwe uitbreking.
Suid-Afrika het reeds in 2017, 2021 en 2023 grootskaalse uitbrekings van voëlgriep beleef. Die virus versprei veral deur wilde voëls wat in die lente vanaf Europa migreer. “Huidiglik sukkel Europa en Amerika om die virus te beheer, en daar is reeds ’n uitbreking in Argentinië.”
Breitenbach sê die 2023-uitbreking is aanvanklik by wilde voëls waargeneem, lank voordat dit kommersiële hoenders getref het. Hierdie situasie verhoog die risiko van toekomstige uitbrekings aansienlik.
Oorsake en verspreiding van die virus
Breytenbach het twee hoofredes vir die verspreiding van voëlgriep uitgelig. Eerstens kom die virus van buurlande of ander vastelande, soos met die H5-stam wat in 2023 aangeteken is. Tweedens kan ’n laepatogeniese virus muteer na ’n hoogpatogeniese stam, soos in die geval van die H7-stam wat in die Delmas-omgewing ontstaan het.
In 2023 het hierdie mutasie vanaf ’n kleinboer se hoenders na kommersiële plase versprei, wat grootskaalse verliese tot gevolg gehad het.
Hoenders met die grootste risiko
Die grootste risiko bestaan by langlewende hoenders, soos teelouers en kommersiële lêhoenders wat sowat ’n jaar leef. Braaikuikens, met hul korter lewensduur, word selde deur die virus geraak.
Rapportering en hantering van voëlgriepgevalle
Boere wat vermoed dat hul hoenders besmet is, moet die geval by die departement van landbou aanmeld. Die provinsiale veearts besoek dan die plaas, neem monsters en gee opdrag dat alle hoenders binne ’n drie kilometer-radius van die besmette area uitgeskakel moet word om verdere verspreiding te voorkom.
Beheermaatreëls en entstof
Daar is tans drie metodes om voëlgriep te beheer:
- Biosekuriteit – Streng maatreëls om die verspreiding van die virus te voorkom.
- Uitskakeling – Besmette hoenders en dié in nabye omgewings word van kant gemaak.
- Inenting – As ander maatreëls misluk, bly entstof die enigste alternatief.
Breitenbach het benadruk dat die jongste uitbrekings bewys het dat biosekuriteit en uitskakeling nie voldoende is nie. Hy het ’n beroep op die departement gedoen om die gebruik van entstowwe toe te laat om toekomstige rampe te voorkom.
Ekonomiese impak
Die 2023-uitbreking het gelei tot die uitskakeling van meer as 9,6 miljoen hoenders en ’n verlies van 90% van alle langlewende hoenders in Gauteng. Hierdie verliese het die pluimvee-industrie R9,6 miljard gekos, ’n koste wat uiteindelik deur verbruikers gedra word.
“Ons mik daarna om koste-effektiewe hoender aan die publiek te voorsien en hoop dat die goedkeuring van entstowwe kan help om toekomstige verliese te beperk.”