Agriculture
Wol waai en rekord spat─── ELZETTE BOUCHER 10:11 Sun, 02 Mar 2025

Is dit sy lang arms, fisieke krag, fokus, doelgerigtheid, ondersteuningsnetwerk of passie vir die projekte wat hy aanpak? Dis waarskynlik ’n kombinasie van voorbereiding en diepe geloof, soos wat dit meeste boere betaam, wat die drif na sukses lei.
Tienie du Plessis mag maar vandag op wolke loop. Met sy lyf tot op die uiterste gedryf en trane wat vlak sit, vertel Suid-Afrika se nuwe 24-uur skaapskeerrekordhouer egter opgewonde hy “is lus om nog so ’n paar te skeer”.
Du Plessis, van Steynsburg in die Oos-Kaap, het hierdie naweek by die Gariepdam altesaam 1 031 Merinolammers se wol laat waai in ’n marathonsessie wat om 09:00 Vrydagoggend begin en 17:00 Saterdagmiddag geëindig het. Teen so 16:15 het hy egter in sy doel geslaag om 1 000 skaap te skeer en het voortgegaan om te sien by hoeveel nog hy kon uitkom voor sy tyd verstreke is.
Dié bobaas skeerder, wat 16 jaar gelede die lemme opgeneem het toe ’n ernstige besering sy beroepsrugbydrome aan skerwe gelaat het, het reeds ’n aantal rekords agter die blad. Hy het verlede Oktober 363 ooie in nege ure geskeer en in September saam met Marius Klopper ’n duisend skaap in agt ure geskeer het.
Die 24-uur rekord is redelik raar en word nie sommer erken nie. Dit word beskou as drie werksdae van agt ure elk. Die skeerdery is in 12 twee-uur-lange skofte, wat ook as ’n “run” bekendstaan, ingedeel met ruskanse tussenin.
Aidan Copp ontvang erkenning vir die skeerder wat die meeste skaap in twee ure geskeer het. Foto: OFM
Benewens Du Plessis se rekordpoging het vyf ander skeerders ook teen mekaar meegeding om te sien wie kon die meeste skaap skeer tydens hul “run”. Aidan Copp van Nieu-Seeland het koning gekraai en 141 lammers tydens sy skof geskeer.
’n Laaste “good-luck kiss” voor die laaste skof van die T-24 She(a)r Madness rekordpoging. Foto: OFM
Louie du Plessis, Tienie se vrou, was by hierdie geleentheid nie soos altyd net agter die skerms betrokke nie, maar het ook self ingeklim en neffens hom tien skape geskeer.
“Ek het net gevoel ek wil so graag ‘simpatie-pyn’ toon; net so bietjie ervaar van wat hy vandag deur is. En ek het gedink om ook skaap te skeer is ’n goeie manier om dit te doen.”
Tienie du Plessis met die 1 031ste skaap wat hy geskeer het tydens die rekordpoging. Foto: OFM
Terwyl die son sak vertel Tienie voordat hy gaan rus, wil hy minstens met al die ondersteuners en organiseerders ’n glasie klink en almal bedank vir hul bydraes. En dan begin beplanning vir die volgende uitdagings. “Daar’s planne vir twee wêreldrekords later in die jaar. Ons het nog nie enigiets amptelik op die boeke nie, maar die moontlikhede is redelik sterk.”
OFM Agri cg