Agriculture
Vryburgse boer wen New Holland-trekker─── 13:42 Mon, 03 Mar 2025

Pierre Vercueil (75), ’n boer van die Vryburg-omgewing, het as die gelukkige wenner van ’n splinternuwe New Holland TT3.45-trekker uit die stryd getree in ’n landwye kompetisie wat deur CNH Parts & Service aangebied is.
Hy het die trekker op 27 Februarie 2025 tydens ’n spesiale geleentheid by NWK se hoofkantoor in Lichtenburg in ontvangs geneem.
Die “Win a Tractor”-kompetisie het deelnemers outomaties ingeskryf met elke aankoop van egte onderdele ter waarde van R10 000 tussen Oktober en Desember 2024. Meer as 1 000 inskrywings is ontvang, en Pierre se naam is op 24 Januarie tydens ’n regstreekse Facebook-uitsending as wenner aangekondig.
Toe hy die oproep ontvang, het Pierre aanvanklik gedink dit is ’n poets. “Ek het gedog iemand trek my been! Ek het nog nooit iets gewen nie, so ek was heeltemal verbaas,” het hy by die prysoorhandiging vertel. Hy het selfs aanvanklik gedink dat dit ’n klein modeltrekkertjie was wat hy vir sy kleinseun kon gee, maar dit was ’n groot verrassing toe hy besef dit is ’n volwaardige trekker ter waarde van sowat R240 000.
Pierre Vercueil in sy nuwe trekker. Foto verskaf
Pierre, wat sedert 1972 ’n lojale klant van NWK Meganisasie is, is van plan om sy nuwe trekker te gebruik vir hooi- en brandpaadjiemaak. “New Holland is betroubare masjinerie, maar dit gaan oor die naverkopediens. NWK staan by jou as iets verkeerd loop. Hulle versprei goeie produkte en het ’n uitstekende werkswinkel met kundige, vriendelike mense,” het Pierre gesê.
Volgens Pierre is die persoonlike diens van NWK onverbeterlik. “Frans Kamffer, een van die verkoopspersoneel, verkoop al jare aan my. Hy het goeie meganiese kennis en dit maak ’n groot verskil.”
Belê in egte onderdele
David Visser, hoof van CNH-onderdele in Suid-Afrika, het in ’n verklaring beklemtoon dat die kompetisie oor meer as net die prys gegaan het. “Deur in egte onderdele te belê, verseker boere die betroubaarheid en produktiwiteit van hul toerusting, verminder hulle stilstand en posisioneer hulle hulself vir ’n suksesvolle seisoen.”
Vir Pierre Vercueil is die wen van die trekker nie net ’n wonderlike verrassing nie, maar ook ’n praktiese aanwins wat sy plaasbedrywighede verder gaan versterk.