Agriculture
Steenhuisen: Vennootskappe fondasie vir suksesvolle opheffingsprojekte─── ELZETTE BOUCHER 08:59 Sat, 01 Mar 2025

Samewerking tussen ervare kommersiële produsente en nuwe toetreders is noodsaaklik om volhoubare groei en inklusiwiteit in die landbousektor te bevorder.
Dit was die boodskap van John Steenhuisen, die minister van landbou, tydens die onlangse Oesdagvieringe op Bethlehem. Hy’t saam met die adjunkpresident Paul Mashatile, asook ’n afvaardiging amptelikes, die Remmoho Investment in Agriculture (RIA)-appelprojek besoek Donderdag (27/2).
Samewerking en kennisdeling in landbou
Steenhuisen het benadruk die toekoms van landbou sal afhang van die deel van kennis en hulpbronne tussen groot kommersiële boere en kleinboere. “Daar is meer as genoeg ruimte vir almal in landbou.” Hy het die Landbou- en Agri-verwerkingsmeesterplan uitgelig as ’n strategie om nuwelinge in die waardeketting in te sluit en gelyke ondersteuning aan alle boere te bied.
“Ons doel is om die sektor te laat groei deur mense te help om van bestaansboerdery na kommersiële boerdery oor te skuif.” Hy het ook verwys na inspirerende verhale van boere wat klein begin het en nou multi-miljoenrandse ondernemings bestuur.
Die regeringsafvaardiging het die Stead Fruit Growers-plaas buite Bethlehem besoek. Foto: Landboudepartement
Noodsaaklikheid van finansiële ondersteuning
Steenhuisen het finansiële ondersteuning as ’n kritieke kwessie geïdentifiseer. Hy het die rol van die Landbank beklemtoon, maar erken dat meer geduldige kapitaalbronne nodig is om die landbousektor volhoubaar te ondersteun.
“Om ’n boerdery te ondersteun is nie dieselfde as om ’n spaza-winkel te begin nie. In landbou kan dit een tot drie jaar duur voordat inkomste gegenereer word.” Hy het aangekondig die departement het verskillende modelle ondersoek om toegang tot hierdie tipe kapitaal te vergemaklik, insluitend gemengde finansieringskemas en samewerking met kommersiële banke.
Volgens Steenhuisen vra opkomende boere nie vir spesiale behandeling nie, maar bloot vir ’n regverdige kans om in die mark te kompeteer. Hy het erken dat dit tyd en harde werk verg om ’n suksesvolle boerdery, soos die een in die boord agter hom, tot stand te bring.
Pitso Thomas Sekhoto, Remmoho Investment in Agriculture voorsitter. Foto: Landboudepartement
RIA, ’n onderneming wat 100% in swart besit is, onder voorsitterskap van Pitso Thomas Sekhoto, het die Oesdag aangebied om nywerheidsleiers, regeringsamptenare en strategiese vennote bymekaar te bring om innovasie, volhoubaarheid en ekonomiese impak in die Vrystaat se landboubedryf ten toon te stel.
Die appelboerdery- en verwerkingsinisiatief by Stead Fruit Growers-plaas is gerig op uitvoer en plaaslike verwerking, wat nuwe ekonomiese geleenthede en werkskepping in die Oos-Vrystaat bevorder.
Transformasie van landbousektor
Sekhoto meen die projek lok nie net investering nie, maar speel ook ’n deurslaggewende rol in die transformasie van die landbousektor en die skep van volhoubare werksgeleenthede.
“Hierdie inisiatief is ’n bewys van wat moontlik is wanneer ons saamwerk om ’n meer inklusiewe en mededingende landboubedryf te bou.”
OFM Agri cg