On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Tegnologie help Vrystaatse veediefstal aanspreek

───   ELZETTE BOUCHER 05:00 Tue, 18 Feb 2025

Tegnologie help Vrystaatse veediefstal aanspreek | News Article
’n Bees se snoet is net so uniek soos ’n mens se vingerafdruk. Foto: Getty Images.

“The snout has clout,” lui die slagspreuk op die webwerf van Suid-Afrika se eerste tech-maatskappy wat diere se biometriese identifikasie aan ’n databasis koppel vir onder meer naspeurbaarheid.

Vrystaat Landbou gaan nou onder meer saam met ID-Scan werk om veediefstal in die provinsie aan te spreek. Die organisasie het in ’n verklaring laat weet hulle het in Februarie ’n samewerkingsooreenkoms met voorsitter Bian Jooste in Pretoria geteken.

Jooste verduidelik ID-Scan het ontwikkel omdat “oorplaatjies verlore raak, verander of uitgesny word, maar ’n neusafdruk van ’n bees bly uniek tot die dier, nes ’n mens se vingerafdruk”.

Alex van Rooyen, tegniese adviseur, vertel hul tegnologie is gebaseer op dié beginsel wat reeds in 1922 deur Japanse wetenskaplikes ontdek is. “Ons het dit bloot met tegnologie geïntegreer en op ’n selfoonplatform beskikbaar gestel sodat boere hul beeste met biometriese identiteit kan bevestig.”

Die stelsel werk deur ’n foto van die dier se neus te neem en dit in ’n databasis te stoor. Hierdie inligting word dan gebruik om ’n digitale identiteitsboekie vir elke bees te skep. Dit sluit ’n ‘book of life’ in wat die dier se hele geskiedenis dokumenteer – vanaf geboorte tot slagting.

Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou, sê die organisasie is opgewonde om hande te vat met ID-Scan om die bewyslas van vee-eienaarskap met ’n unieke biometriese neusafdruk-identifikasiesertifikaat te koppel met hule eie Animal ID, Movement and Safety (AIMS)-stelsel. “Dit sal baie help met vinnige visuele of elektroniese identifikasie van ’n bees vir kudde-bestuur, veediefstal-identifisering of naspeurbaarheid.”

Die AIMS stelsel gaan oorplaatjienommers koppel aan die unieke biometriese identiteit wat ID-Scan vanaf ’n neusafdruk genereer en ’n unieke nommer daaraan allokeer. Elke keer wanneer ’n bees se QR-kode op die plaatjie geskandeer word met ID-Scan se toep op jou slimfoon, word die datum, tyd en plek in die ID-Scan en AIMS databasis aangeteken.

Diefstal van vee is ’n groot uitdaging in Suid-Afrika, maar die tegnologie bied ’n innoverende oplossing. Indien gesteelde beeste in ’n skut beland, kan hul identiteit maklik bevestig word deur bloot weer ’n foto van die neus te neem.

Dit maak ook groot geleenthede oop vir finansiering en versekering van vee, en pas in by die nasionale RMIS naspeurbaarheidstelsel. ID-Scan is reeds gekoppel aan SA Stamboek en dus kan die programme die data outomaties met mekaar deel sodat die ingetekende boere net eenmalig moet registreer.

Dit bied ook ’n oplossing vir nuweling-boere wat hul kuddes as sekuriteit wil gebruik om finansiering te bekom. “Ons werk tans daaraan om hierdie mark te ontsluit, en in samewerking met versekeraars behoort ons binnekort finansieringsopsies beskikbaar te stel,” sê Van Rooyen.

“Ons uiteindelike doel,” sê Jooste, “is ons wil hê die neusafdruk moet vir die veebedryf doen wat die vingerafdruk vir mense gedoen het in terme van die bankbedryf (finansiering), die versekeringsbedryf, voorkoming van misdaad met die SAPD en handel (by veilings)”.

Christo Doman, AIMS Oorsig en Ondersteuning by Vrystaat Landbou se komitee vir kommersiële sake sê die behoefte aan ’n doeltreffende stelsel vir naspeurbaarheid het reeds drie jaar gelede ontstaan tydens Vrystaat Landbou se kongres. “Die voordeel van hierdie stelsel is dat dit veeboere help om hul diere se gesondheidstatus te monitor en hul bewegings wettig te registreer. Vleisgradeerders en abattoirs sal ook baat vind, aangesien hulle verseker kan wees dat diere vry van siektes is, wat uiteindelik tot kostebesparings lei.”

Brian Jooste van ID-Scan en Francois Wilken van Vrystaat Landbou. Foto: verskaf

Hy verduidelik verder tradisionele identifikasiemetodes, soos oormerkplate en brandmerke, word dikwels deur veediewe verander of verwyder. Van Rooyen voeg by dat selfs al sou ’n misdadiger probeer om die dier se neus te vermink sal die stelsel steeds werk. “Sodra jy ’n bees se neus afsny, is sy verkoopswaarde nul. Ons applikasie is so ontwikkel dat selfs ’n beskadigde neus steeds identifiseerbaar is.”

Die tegnologie bied ook waardevolle insigte deur groot data te verwerk. “Ons kan geografiese gebiede as ‘rooi sones’ vir siektes soos bek-en-klouseer merk en so voorkom dat diere uit daardie gebiede verkoop word,” verduidelik Van Rooyen.

Boonop help die data om dierebewegings oor grense dop te hou, wat ’n sleutelrol speel in die bekamping van veediefstal. “Ons vee-diefstalsyfers is ongelooflik hoog, en ons wil weet waarnatoe die diere beweeg en watter diere die land binnekom.”

LEES OOK: Plan om landbou te beskerm: Strenger wette en beter sekuriteit nodig

Volgens Doman is AIMS en ID-Scan nie net vir lede van Vrystaat Landbou beskikbaar nie, maar vir enige veeprodusent, insluitend kommunale boere. “Ons werk saam met staatsveeartse en ander instansies om finansiële ondersteuning te bied vir boere wat nie altyd die hulpbronne het om naspeurbaarheid te implementeer nie.”

Boere hoef nie ekstra bestuursprogramme aan te skaf nie; hulle koop eenvoudig die ID-merkplaatjies, wat direk aan die databasis gekoppel word. “Hierdie nuwe metode vervang die tradisionele merkproses en verseker dat data akkuraat en permanent gestoor word.”

OFM Agri

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.