Agriculture
Dringende optrede om Vrystaatse waterbronne te red─── ROBYN SCHUTTE 05:00 Thu, 06 Feb 2025

Vrystaat Landbou waarsku waterbesoedeling, veral deur rioolstortings, hou ’n ernstige bedreiging in vir landbou en gemeenskappe.
Die organisasie het ’n sterk pleidooi aan boere en munisipaliteite gerig om verantwoordelikheid te neem vir die beskerming van die provinsie se waterbronne.
Kempen Nel, voorsitter van Vrystaat Landbou se natuurlike hulpbronne-komitee, meen munisipaliteite is dikwels die grootste sondaars. “Hulle stort groot hoeveelhede riool in riviere wat stroomaf deur boere gebruik word vir besproeiing.” Dit plaas nie net landbouproduksie in gevaar nie, maar hou ook gesondheidsrisiko’s in vir gemeenskappe wat afhanklik is van daardie waterbronne.
Volgens Nel is wetstoepassing gebrekkig, aangesien staatsdepartemente dikwels nie die vermoë het om waterwetgewing doeltreffend af te dwing nie. “Die staat is die eienaar van die water, maar hulle het eenvoudig nie die kapasiteit om dit behoorlik te bestuur nie.” Hy noem die besoedeling van die Vaalrivier as ’n voorbeeld van hoe wanbestuur en nalatigheid tot ’n ekologiese krisis kan lei.
Hoewel munisipaliteite en die regering primêr verantwoordelik is vir waterbestuur, wys Nel daarop boere moet ook verantwoordelikheid neem vir hul eie praktyke. “Ons moet bedagsaam wees en seker maak dat ons self nie waterbronne besoedel nie, of dit nou chemiese afval of die onbehoorlike wegdoening van dooie diere is.” Hy moedig boere aan om volhoubare waterbestuurspraktyke te implementeer en om besoedeling binne hul eie gemeenskappe aan te spreek.
Vrystaat Landbou beplan om op 13 Februarie ’n vergadering met die LUR vir Landbou te hou om spesifiek die besoedelingskrisis by Jagersfontein te bespreek, maar Nel meen die groter bekommernis bly steeds die voortdurende storting van riool in riviere. Hy bepleit dat alle rolspelers van boere en gemeenskappe tot staatsdepartemente verantwoordelik gehou moet word en ’n gesamentlike poging moet aanwend om waterhulpbronne te beskerm.
“Dit kom neer op respek vir jouself en jou medemens,” sluit Nel af. “As ons almal net meer bedagsaam is, kan ons ’n verskil maak.”