Agriculture
Regskenner waarsku oor streng regulasies vir kweek van dagga─── 07:13 Tue, 04 Feb 2025
Die kommersiële verbouing van kannabis (dagga) in Suid-Afrika bly streng gereguleer en mag nie sonder die nodige permitte gedoen word nie.
Dit is die waarskuwing van regskenner Hans-Jurie Moolman, wat verduidelik watter wetlike vereistes geld vir die kweek van dagga op plase vir handelsdoeleindes.
“’n Mens kan nie dagga in dieselfde asem as ander gewasse noem wat kommersieel verbou word nie,” sê Moolman. “Die aanplant van dagga word streng gereguleer en is slegs wettig binne die raamwerk van medisinale gebruik.”
Streng permitstelsel vir kommersiële verbouing
Moolman verduidelik dat enige persoon wat dagga kommersieel wil verbou, ’n permit by SAPHRA (die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte Reguleringsowerheid) moet bekom.
“As jy dagga wil verbou vir enige kommersiële rede, moet jy ’n permit aanvra en daar is ’n groot klomp vereistes waaraan jy moet voldoen,” sê hy. “Dit sluit in jou fasiliteite, toegangsbeheer, jou persoonlike profiel en selfs die personeel wat met die plante gaan werk.”
Hierdie streng regulasies is deels te wyte aan Suid-Afrika se internasionale verpligtinge om dwelmverslawing en onwettige handel te beperk.
“Volgens internasionale reg word dagga steeds as ’n dwelm beskou en Suid-Afrika het hom verbind tot die bestryding van afhanklikheid,” verduidelik Moolman. “Daarom bly die wetgewing baie streng.”
Persoonlike gebruik: ’n Grys gebied
Terwyl kommersiële verbouing streng beheer word, is dit steeds wettig om dagga vir persoonlike gebruik te kweek – maar met groot onsekerheid oor hoe hierdie wet toegepas word.
“Die huidige regsposisie laat mense toe om dagga vir persoonlike gebruik in hul persoonlike ruimte te kweek,” sê Moolman. “Maar daar is baie onsekerheid oor wat presies as ‘persoonlike gebruik’ beskou word.”
Hy waarsku dat enige persoon wat buite hul woning met dagga gevang word of daarmee handel dryf, steeds die gevaar loop om vervolg te word.
“Die wet oor dwelmhandel en dwelmverwante aktiwiteite bly steeds in plek,” sê hy. “As jy dus buite jou huis gevang word met dagga, kan jy steeds vervolg word.”
Regsadvies vir aspirant-boere
Vir enige persoon wat ’n dagga-kweekprojek oorweeg, beveel Moolman aan dat hulle SAPRA kontak om seker te maak hulle voldoen aan alle vereistes.
“Dit is belangrik om binne die regte regsraamwerk te werk,” sê hy. “Maak seker jy verstaan die permitstelsel en voldoen aan alle regulasies voordat jy begin verbou.”
Hy moedig diegene wat belangstel aan om die regte stappe te volg en nie sonder wettige toestemming te begin kweek nie.
“Die belangrikste raad is eenvoudig: moenie probeer om kommersiële dagga te verbou sonder ’n geldige permit nie,” waarsku hy. “Die risiko’s is eenvoudig te groot.”
Met die voortgesette debat oor die regulering van dagga in Suid-Afrika, bly dit ’n sensitiewe en ingewikkelde regsgebied. Moolman het afgesluit deur te sê dat hy hoop toekomstige wetgewing meer duidelikheid sal bring vir boere en verbruikers.
OFM Agri cg