Agriculture
Loslopende diere op paaie ernstige probleem in Vrystaat─── 06:58 Tue, 04 Feb 2025
Vrystaat Landbou het ’n dringende beroep op motoriste en gemeenskapslede gedoen om bewus te wees van die gevaar wat loslopende diere op paaie inhou.
Gedurende die afgelope feesseisoen was daar ’n toename in motorongelukke waar voertuie met rondloperdiere gebots het, wat in sommige gevalle ernstige beserings veroorsaak het.
Volgens Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou se landelike veiligheidskomitee, is dit ’n groeiende probleem in die provinsie. Hy wys daarop dat baie van hierdie diere nie gebrandmerk is nie, wat dit uiters moeilik maak om die eienaarskap daarvan vas te stel.
“Dit veroorsaak ongelukke en as daar ongelukke plaasvind, kry jy nie die eienaar van daardie vee nie. Hy verdwyn net eenvoudig, want hy gaan nie die verantwoordelikheid vir sy vee neem nie,” sê Le Roux. “Nege-en-negentig persent van die tyd is hierdie loslopende vee nie gebrandmerk nie, so jy kan nie bepaal aan wie dit behoort nie.”
Munisipale wette ontbreek in meeste dorpe
Hoewel munisipaliteite veronderstel is om bywette te hê om hierdie probleem te reguleer, het ’n opname deur Vrystaat Landbou gewys dat baie dorpe nie sulke wette het of dit eenvoudig nie toepas nie.
“Daar is bitter min munisipaliteite wat hierdie wette in plek het. Ek dink daar is net sowat agt of nege dorpe waar bywette honderd persent reg is. Die res het óf geen wette nie, óf hulle word glad nie afgedwing nie,” verduidelik Le Roux.
Vrystaat Landbou het ’n versoek aan 88 dorpe in die Vrystaat gerig om die probleem dringend aan te spreek en munisipale regulasies toe te pas.
Oproep aan die publiek om insidente te rapporteer
Om druk op die owerhede te plaas, het Vrystaat Landbou ’n veldtog van stapel gestuur waarin die publiek versoek word om voorvalle van loslopende vee te dokumenteer en aan te meld by die polisie.
Le Roux doen ’n beroep op motoriste en boere om foto’s te neem van vee wat langs paaie rondloop of in padreserwes beweeg. Hierdie foto’s moet saam met ’n inskrywing in die polisie se voorvalleboek aan Vrystaat Landbou gestuur word.
“Ons vra asseblief vir die gemeenskap: doen dit. As ons dit nie doen nie, dan moet ons nie kla oor die probleem nie,” beklemtoon hy. “Neem ’n foto, kry die GPS-koördinate en stuur dit saam met die OB-inskrywing vir ons.”
Hierdie veldtog sal vir twee maande duur om ’n volledige opname van die probleem te maak.
Volgende stappe en regeringsbetrokkenheid
Teen einde Maart 2025 sal ’n verslag opgestel word op grond van die ingesamelde data. Dit sal aan verskeie regeringsdepartemente voorgelê word, insluitend die polisie se prioriteitskomitee, wat hierdie tipe kwessies hanteer.
“Ons gaan hierdie verslag gebruik om druk toe te pas op departemente en die nodige reaksies te verkry. Dit gaan oor ’n lang proses van aksie neem en aanspreeklikheid afdwing,” sê Le Roux.
Een van die belangrikste kwessies wat aangespreek moet word, is die tekort aan skutplekke in baie dorpe. “Daar is ’n klomp dorpe wat nie eens ’n funksionerende skut het nie,” voeg hy by.
Hy beklemtoon verder dat die sukses van hierdie veldtog afhang van gemeenskapsbetrokkenheid.
“Ons kan net ’n verskil maak as mense deelneem en hierdie insidente aanmeld. Dit vra ’n bietjie moeite, maar dit is nodig sodat ons ’n realistiese beeld van die probleem kan kry en werklik iets daaraan kan doen.”
Motoriste gewaarsku om versigtig te wees
Vrystaat Landbou maan alle padgebruikers om versigtig te wees, veral in landelike gebiede waar vee dikwels langs of op die pad gevind word. “Hierdie is nie net ’n boere-kwessie nie, dit raak alle motoriste,” sê Le Roux.
Hy beveel aan dat bestuurders in gebiede met ’n hoë voorkoms van loslopende diere hul spoed verlaag en altyd bedag sal wees op moontlike gevare.
Gemeenskapslede word aangemoedig om by hierdie inisiatief betrokke te raak om te help om paaie veiliger te maak en verantwoordelikheid vir loslopende diere af te dwing.
“As ons saamstaan en hierdie probleem proaktief aanpak, kan ons ’n verskil maak,” sluit Le Roux af.