Agriculture
Biosekuriteit, gradering en veldbestuur onder die loep─── 07:15 Fri, 31 Jan 2025
Die Rooivleis-aksiegroep (RAG) het onlangs sy jaarlikse rooivleiswerksessie aangebied buite Kroonstad. Tydens hierdie werksessie is baie belangrike kwessies aangeraak.
Friedl von Maltitz, adjunkpresident van Vrystaat Landbou, vertel een van die belangrikes was biosekuriteit. “Die gevoel was dat biosekuriteit kritiek belangrik is vir die voortbestaan van die rooivleisbedryf en dat daar ook nie net gefokus moet word op bek-en-klouseer nie, maar ook op staats of veronderstelde staatsbeheerde siektes soos BM en TB wat nie meer werklik voor getoets word in die land nie.” Hy sê dit hou ’n groot bedreiging vir die nasionale beeskudde.
Op die vergadering is ook klem gelê op wat boere kan doen om hulself, hul plase en kuddes te beskerm teen die verspreiding van siektes soos bek-en-klouseer, TB of BM. “Dis ook duidelik die staat kom nie sy pligte na om hierdie siektes te verhoed en te bekamp nie,” sê Von Maltitz.
Nóg ’n gesprekspunt was gradering teenoor klassifisering. “Tans het ons vir rooivleis net ’n klassifikasiestelsel, wat eintlik net die ouderdom en die vetneerlegging bepaal en glad nie toegepas word op die kwaliteit van die vleis nie.
“Daar word eintlik gediskrimineer op daardie wyse teen boere, veral boere wat beeste of skape op die veld wil afrond, wat dan noodwendig langer vat as wanneer hulle mielies gevoer word,” verduidelik Von Maltitz.
Hy sê die gevoel was daar moet gekyk word na ’n graderingstelsel waar die kalwers of die lammers wat verkoop word, gegradeer word op grond van hoe hulle behandel word en waarteen hulle ingeënt is. “Dan weet die koper ook watter tipe kalf hy kry, wat daardie kalf se gradering is, en dit kan deurgetrek word tot by die karkas en die produk wat op die rak eindig.”
Steeds geen naspeurbaarheidstelsel
Die onderwerp van naspeurbaarheid is ook goed deurgetrap. “Vir party boere het dit geblyk dit is nie so belangrik nie, want hulle voel as hulle vee gebrandmerk of getatoeëer word met ’n plaatjie in die oor is die naspeurbaarheid reeds daar.
Dis eintlik uiters frustrerend dat Suid-Afrika nog steeds ná al die jare van praat daaroor nie ’n naspeurbaarheidstelsel het nie. Dis iets waarna die bedryfsorganisasies, die regering en selfs die boere krities moet kyk.”
Met die oog op die komende winter word boere landwyd aangeraai om hul veldbestuurstrategieë fyn dop te hou om die uitwerking van droogtetoestande te minimaliseer. Von Maltitz, ’n kenner op die gebied van weiding- en veldbestuur, beklemtoon die belangrikheid van behoorlike veldvoorbereiding, veral in streke wat gereeld onder lae reënval deurloop.
Waardevolle insig
Volgens Von Maltitz heers kommer reeds oor die komende winter, veral in dele van die Vrystaat en ander droër streke van die land. Hy wys daarop dat boere goed bewus is van die noodsaaklikheid om hul veld volhoubaar te benut en dit reeds jare lank selfstandig bestuur. Tog bied nuwe navorsing waardevolle insig oor hoe hulle hul praktyke nog kan verbeter.
Een van die kernaspekte waarop boere hulle moet toespits, is die keuse van diere wat optimaal aangepas is vir die plaaslike omgewing. Deur diere te selekteer wat natuurlik goed aanpas by die beskikbare weidingstoestande, kan hulpbronne beter benut en die veld se herstelvermoë verhoog word.
OFM Agri cg