On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Theo Rabe kyk terug op loopbaan by NWK

───   09:38 Mon, 03 Feb 2025

Theo Rabe kyk terug op loopbaan by NWK | News Article
NWK-direksievoorsitter Heinrich Krüger en voormalige HUB Theo Rabe by die 115 verjaardagviering in 2024. Foto: NWK

Theo Rabe was talle jare lank sinoniem met NWK en sedert 2017 aan die stuur van dié dinamiese landboumaatskappy, die oudste in Suid-Afrika.

OFM Agri se Pieter Möller het met Rabe gesels ná sy uittrede in 2024 oor sy tyd by dié organisasie asook sy toekomsplanne.

Rabe beskryf sy tyd by NWK as ’n fassinerende en vervullende reis, vol uitdagings, maar ook hoogtepunte. “Ek het in 2016 en 2017 as waarnemende uitvoerende hoof gedien te midde van groot uitdagings vir die NWK-groep. Ons het belange in Afrika gehad en was betrokke in verskeie industrieë, wat groot uitdagings meegebring het.”

Hy is trots op hoe die maatskappy ’n finansiële ommekeer beleef het. “Met ’n jong bestuurspan en die ondersteuning van die direksie kon ons binne ’n paar jaar die maatskappy omdraai. Ons het byna die ekwiteit verdubbel, wat beteken dat die reserwes van die maatskappy aansienlik versterk is. Dit het ’n stewige grondslag geskep vir toekomstige groei.”

NWK het ook in gemeenskapsprojekte belê tydens sy termyn. “Ons het in infrastruktuurprojekte belê, soos die skraap van paaie en ander liefdadigheidsinisiatiewe, wat ’n groot impak op ons gemeenskappe gehad het. Ek glo dit is ’n verantwoordelikheid van maatskappye om die platteland te ondersteun en volhoubaar te ontwikkel,” sê hy.

Rabe beklemtoon dat die landbousektor in Suid-Afrika voor groot uitdagings staan. Hy het diep respek vir produsente en die moeilike omstandighede waarin hulle moet werk.

Hy noem politieke faktore as een van die belangrikste struikelblokke. “Die huidige politieke bestel is nie produsentvriendelik nie. Dit skep baie uitdagings en trek produsente se aandag af van dit wat hulle goed doen – kos produseer.”


Nog ’n belangrike faktor is klimaatsverandering. “Ons sien al hoe meer uiterste weersomstandighede, soos oorstromings en hittegolwe. Dit raak ons boere direk en maak volhoubare boerdery al hoe moeiliker.”

Boonop raak boerderyeenhede in Suid-Afrika groter, wat veroorsaak dat sommige boere uit die bedryf gedwing word. “Daar is ongelukkig altyd produsente wat moet ophou boer omdat hulle finansieel nie kan oorleef nie.”

Tog bly hy optimisties oor die bedryf se toekoms. “Ek wil weereens my waardering uitspreek teenoor ons boere vir die kos wat hulle produseer. Hulle is die ruggraat van die land.”


Hoewel hy afgetree het, beplan Rabe nie om heeltemal stil te sit nie. “Ek is in ’n bevoorregte posisie om my aftrede te kon beplan, en ek is baie dankbaar daarvoor.”

Hy gaan eers aan sy eie belange aandag gee, spesifiek sy plaas naby Zeerust. “Ek wil ’n bietjie my goed in orde kry en tyd spandeer aan dit waarvoor ek lief is.” Daarna wil hy en sy vrou, Magda, die land verken. “Ons beplan om Suid-Afrika rond te toer en die besienswaardighede van ons pragtige land te geniet.”

Maar sy liefde vir landbou bly steeds sterk. “Ek wil my ervaring gebruik om terug te ploeg in die bedryf. Ek het reeds by ’n paar maatskappye betrokke geraak op direksievlak en wil graag verder betrokke wees. Ek oorweeg ook om by georganiseerde landbou-instellings te help.”

Passie vir landbou onmiskenbaar

Hy sluit af met die moontlikheid dat sy naam steeds in landboukringe gehoor mag word. “Ek sien baie uit na die volgende fase van my lewe en dalk gaan ek in die toekoms weer op verskeie platforms te sien wees.”

Theo Rabe het ’n blywende uitwerking op NWK en die landbousektor gehad. Sy leierskap, insig en toewyding het die maatskappy gehelp groei en gemeenskappe ondersteun. Hoewel hy uit die korporatiewe wêreld tree, bly sy passie vir landbou onmiskenbaar, en sy invloed sal steeds in die sektor gevoel word.

OFM Agri

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.