Agriculture
Vrystaatse boere eis beter selfoonsein─── 09:57 Mon, 03 Feb 2025
Boere langs die Lesotho-grens in die Vrystaat is keelvol vir swak selfoonseine en het ’n klag ingedien by die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa).
Die jare lange probleem raak nie net landboubedrywighede nie, maar hou ernstige veiligheidsrisiko’s in.
Volgens dr. Jane Bys, veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou, gaan die hele Vrystaatse platteland gebuk onder swak sein. “Ons sukkel al etlike jare met swak selfoonseine en netwerkprobleme,” sê sy.
In ’n opname twee jaar gelede is die uitwerking van beurtkrag op selfoonseine ontleed. Die resultate was kommerwekkend: “Ons het gesien hoe swak seine direk misdaad beïnvloed, en boere het ernstige probleme ondervind om in noodsituasies hulp te ontbied.”
Vrystaat Landbou het dié bevindinge destyds met Vodacom en MTN, die grootste diensverskaffers in die provinsie, bespreek en versoek dat probleemgebiede aangespreek word.
Die krisis rondom swak selfoonseine het onlangs weer na vore gekom ná ’n plaasaanval by Dewetsdorp.
“’n Ouerige vrou is herhaaldelik deur verskeie aanvallers geskiet en het sestien keer probeer bel om hulp. Sy het vyftien stemboodskappe gestuur, maar nie een het deurgegaan nie.” Slegs een oproep het uiteindelik deurgedring, waarna veiligheidsnetwerke en bure haar tot hulp gesnel het.
“Ons kan eenvoudig nie toelaat dat boere, vroue, kinders en bejaardes in afgeleë gebiede afgesny word van hulp wanneer hulle dit die nodigste het nie.”
Dr. Jack Armer van Vrystaat Landbou het reeds ’n formele klag oor die selfoonprobleme ingedien. “Okosa het onmiddellik laat weet dat hulle ’n tegniese span na die Dewetsdorp-omgewing stuur om die probleem te ondersoek,” sê Buys.
Vrystaat Landbou dring daarop aan dat selfoondiensverskaffers soos Vodacom en MTN die probleem ernstig prioritiseer en oplossings implementeer. “Boere is die hartklop van die Vrystaat, en hulle voorsien voedsel aan miljoene mense. Dit is krities dat hulle betroubare kommunikasie het.”
Daar word ook na alternatiewe oplossings gekyk, insluitend satellietverbindings en Starlink as moontlike opsies om boere beter te ondersteun. Vrystaat Landbou beplan om saam met die polisie en ander rolspelers oplossings te soek om selfoonseine te verbeter en kritieke infrastruktuur teen misdaad te beskerm.
“Ons gaan nie rus voordat hierdie probleem daadwerklik en effektief aangespreek is nie.”