On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Droë en warm toestande kelder positiewe vooruitsigte

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Wed, 29 Jan 2025

Droë en warm toestande kelder positiewe vooruitsigte | News Article
Onafhanklike weerkundige, Johan van den Berg, waarsku toestande kan oor die volgende twee weke bepalend wees vir boere se oorlewing. Foto: iStock

Landbouers in die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes verkeer onder geweldige druk aangesien die huidige seisoen nie die verwagte reënval gelewer het nie.

Johan van den Berg, onafhanklike weerkundige, waarsku toestande kan oor die volgende twee weke bepalend wees vir boere se oorlewing. “Die reënval wat ons verwag het, het eenvoudig nie gerealiseer nie, en ons sit nou met ’n krisis. Die volgende paar weke is uiters belangrik vir veldherstel en toekomstige landbouproduksie.”

Hy verduidelik weerpatrone is op die oomblik ongunstig. Gebiede soos die Mosambiek-kanaal, Madagaskar en Noord-Afrika ervaar swaar reën, maar die vog beweeg ooswaarts eerder as suidwaarts. As gevolg hiervan is reën in Suid-Afrika steeds skaars, en boere sal moontlik slegs enkele verspreide buie gedurende Februarie sien.

Die kombinasie van droë toestande en hoër temperature vererger reeds swak weidingstoestande, veral in die Noord-Kaap. “Februarie, Maart en April is sleutelmaande vir veldherstel. 

“Indien ons nie teen Maart voldoende reën kry nie, sal dit ’n kettingreaksie veroorsaak wat die winter, lente en selfs die somer beïnvloed,” waarsku Van den Berg.

Daar is ook kommer oor die moontlikheid van vroeë ryp in April of Mei, wat groot implikasies vir graan- en veeboere kan inhou. Hoewel peste en siektes tans nie groot uitdagings is nie, is hitte, hittestres en grondvog steeds ’n belangrike faktor wat boere se beplanning beïnvloed.

Langtermyn-voorbereiding noodsaaklik

Volgens Van den Berg moet boere begin fokus op langtermyn tendense en die historiese reënvalpatrone in die streek. “Ons is geneig om te vergeet dat droë toestande eintlik meer normaal is vir hierdie gebiede. 

“Die afgelope paar jaar van goeie toestande was abnormaal. Boere moet konserwatief wees en hul beplanning aanpas om toekomstige droogtes beter te kan hanteer.”

OFM Agriculture/Robyn Schutte

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.