On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Nuwe uitvoergeleenthede na Europese Unie

───   12:17 Wed, 16 Oct 2024

Nuwe uitvoergeleenthede na Europese Unie | News Article
Marika Jakas Foto: Silver Dune Photography

Met die toenemende klem op klimaatsverandering is daar ook gepraat oor die moontlikheid van Europese beleggings in Suid-Afrika se landbousektor, en hoe nisprodukte soos wilds- en volstruisvleis potensiaal in die Europese mark het.

Die Europese Unie (EU) en sy 27 lidlande is die grootste handelsvennoot van Suid-Afrika wêreldwyd met sowat 22% van die land se in- en uitvoer wat aan die EU toegeskryf kan word.

Op die Green Horizons-kongres in Kaapstad het Marika Jakas, hoof van handel en ekonomie van die EU se afvaardiging na Suid-Afrika, ’n aantal geleenthede met produsente oor uitvoer gedeel.

“In 2023 het Suid-Afrika se uitvoer van landbouprodukte na die EU ongeveer €2,4 miljard beloop wat ooreenstem met sowat R46,6 miljard. Invoer van die EU na Suid-Afrika was effens laer op €2,1 miljard (ongeveer R42,4 miljard), wat ’n positiewe handelsbalans vir Suid-Afrika aandui.”

Die belangrikste uitvoerprodukte van Suid-Afrika na die EU sluit in sitrusvrugte, druiwe, gedroogde vrugte, neute en wyn. “Suid-Afrikaanse wyne het groot potensiaal in die Europese mark, hoewel dit nie oral op Europese winkelrakke beskikbaar is nie.”

Jakas het ook oor die toenemende vraag na organiese produkte in die EU gepraat en aangedui dat Suid-Afrika se organiese vars vrugtebedryf in die toekoms groot kan baat by hierdie geleentheid. Sy het ook daarop gewys dat Suid-Afrika se landbouprodukte, beide verwerkte en onverwerkte, moontlik beter geïntegreer kan word in die EU se landbouverwerkingswaardeketting.

“Daar is reeds samewerking tussen Suid-Afrikaanse en Europese boere op die gebied van navorsing, innovasie en kennisuitruiling, maar daar is ruimte vir baie meer.” Sy het ook opgemerk dat Suid-Afrika se vermoë om tropiese gewasse, soos suikerriet en koffie, te kweek wat in Europa onmoontlik is, verdere geleenthede vir samewerking skep.

CAP se strategiese planne toon potensiaal om by te dra tot klimaatsversagting. Grafika van Marika Jakas se voorlegging 

Jakas het ook die konsep van geografiese aanduidings bespree, wat in die EU wyd erken word en ’n mededingende voordeel vir produkte skep. Sy het voorbeelde genoem soos Rooibos en Karoolam, wat ’n sterk bemarkingsgeleentheid inhou.

Wat gesondheidstandaarde betref, het Jakas genoem hoewel dit uitdagend is om aan die EU se streng gesondheid- en dierestandarde te voldoen, daar programme bestaan wat Suid-Afrika ondersteun om hierdie standaarde te bereik. “Die EU-SADC EPA-ondersteuningsprogram, ter waarde van €10 miljoen is daarop gemik om Suid-Afrika se kapasiteit te verbeter om aan internasionale standaarde vir dier- en openbare gesondheid te voldoen.”

Met die toenemende fokus op klimaatsverandering, het Jakas ook gepraat oor die moontlikheid van Europese beleggings in Suid-Afrika se landbousektor en hoe nisprodukte soos wilds- en volstruisvleis potensiaal in die Europese mark het. Sy het benadruk dat die EU se gesondheidstandaarde en vereistes uitdagings inhou, maar met volgehoue ondersteuning en samewerking is daar groot geleenthede vir Suid-Afrika om verder in die Europese mark deur te dring.

OFM Agri dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.