On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Samewerking sleutel tot oplewing in landbou

───   ELZETTE BOUCHER 13:20 Mon, 14 Oct 2024

Samewerking sleutel tot oplewing in landbou | News Article
Landbouminister John Steenhuisen by die AgriSA-kongres in Kaapstad. Foto: Silver Dune Photography

“Voedselsekerheid gaan oor mense en verhoudings.”

Die noodsaaklikheid van vennootskappe en die rol van georganiseerde landbou in die groei van Suid-Afrika se landbousektor, is weereens by AgriSA se kongres in Kaapstad onderstreep.

John Steenhuisen, Minister van Landbou, het tydens sy toespraak onder meer AgriSA beskryf as ’n noodsaaklike vennoot vir die Departement van Landbou en beklemtoon dat die organisasie ’n sleutelfiguur is in die sektor se vooruitgang. “Dit is van kardinale belang om saam met AgriSA te werk, veral op ’n vieringsdag soos vandag.”

Die organisasie het in 2024 sy 120ste bestaansjaar gevier en die amptelike verrigtinge het by die Zeitz Museum of Contemporary Art Africa plaasgevind.


Volgens Steenhuisen lê die kundigheid, kennis en belegging in landbou grootliks in kommoditeitsliggame en georganiseerde landbou. “Ons is vasbeslote om die werkskeppingsagenda in landbou te bevorder, en AgriSA is ’n sleutelvennoot in daardie missie.”

Steenhuisen het ook sy entoesiasme oor die toekoms van landbou uitgespreek en die potensiaal vir werksgeleenthede in die sektor. Hy het landbou, toerisme en industriële prosesse uitgelig as die drie belangrikste sektore wat grootskaalse indiensneming vir ongeskoolde werkers kan absorbeer.

“Ons staan voor ’n geweldige geleentheid om die werkloosheidskrisis op te los deur die landbousektor te laat groei. Ek is baie passievol hieroor.”

Hy het verder aangedui dat landbou ook steun nodig het in gebiede soos veiligheid, vervoer, plaaslike regeringsinfrastruktuur en die ontwikkeling van hawens en spoorweë. Steenhuisen het belowe om as ’n sterk stem vir boere op te tree en landbou se belange voorop te stel in beleidsbesluite.


Op sy beurt het Johann Kotzé, AgriSA se hoof uitvoerende beampte, gesê die kongres het ’n gevoel van herlewing gebring. “Dit voel regtig of ons samekomste en verhoudings versterk is, en dat ons baie gesprekke gevoer het oor kwessies wat tans nie noodwendig vir ons relevant is nie, maar wat ons toekoms gaan beïnvloed.”

Vir Kotzé was die hoogtepunte van die kongres die besef van landbou se invloed op Suid-Afrika se ontwikkeling. “Voedselsekerheid gaan oor mense en verhoudings. ’n Mens is nie voedselveilig totdat jy landbou en mense bymekaar bring nie. Ons roeping is groter as AgriSA – dit is landbou as ’n  geheel in Suid-Afrika.”

OFM Agri/Elzette Boucher-Krüger cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.