On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

AgriSA-kongres: Data, winsgewendheid hoog op agenda

───   ELZETTE BOUCHER 04:49 Thu, 10 Oct 2024

AgriSA-kongres: Data, winsgewendheid hoog op agenda | News Article
Donateurs oorhandig 'tjeks' aan AgriSecuritas by die AgriSA-kongres in Kaapstad. Foto: OFM.

“As ons kyk na die volgende paar jaar, dink ons hier is ’n paar veranderinge wat sal moet gebeur. Data is uiters belangrik, ook die verwerking daarvan. Ons moet beter en meer effektief raak om te kan meeding.”

Data en die gebruik daarvan om meer effektief te boer om winsgewendheid te verhoog, is een van die gesprekspunte by vanjaar se AgriSA-kongres wat in die Zeitz Mocaa-kunsgalery by die Waterfront in Kaapstad plaasvind.

Jaco Minnaar, die president van die organisasie, wat ook vanjaar sy 120ste bestaansjaar vier, vertel met die tema “Green Horizons” wil AgriSA die toekoms beskou. “Hoe lyk die toekoms en hoe kan ons dit vir onsself bepaal en self beplan?”

Van die ander punte wat onder die loep kom, sluit in die verbruiker se veranderende behoeftes, veral as dit kom by die omgewing en die wyse waarop kos geproduseer word, en voedselstelsels. “Hoe maak ons seker dat kos van die produsent af gesond en voedsaam op die verbruiker se tafel kom?”

Minnaar noem AgriSA is in 1904 gestig weens boere se behoefte om saam te staan, bymekaar te kom, oor die uitdagings van landbou te praat, oplossings te vind en die staat te beïnvloed. “Vandag is ons op presies dieselfde plek waar ons ook die staat nog steeds moet beïnvloed, waar ons mekaar moet help en mekaar moet ondersteun.”

Hy meen hoewel Suid-Afrika nie die beste landbougrond of klimaat het nie, dat plaaslike produsente dit wel steeds regkry om internasionaal mee te ding, maar dat meer gedoen kan word om struikelblokke uit die weg te ruim.

“As ons kyk na die volgende paar jaar, dink ons hier is ’n paar veranderinge wat sal moet gebeur. Data is uiters belangrik asook die verwerking daarvan. Ons moet beter en meer effektief raak om te kan meeding.”

Japie Grobler stel ’n heildronk in op AgriSA se 120ste bestaansjaar. Foto: OFM

Tydens Woensdagaand (9/10) se verwelkomingsgeleentheid het Japie Grobler, bekende landbouleier en ’n voormalige president van AgriSA, die organisasie en landbou in die breë se prestasies aangeprys en produsente aangemoedig om op winsgewindheid te fokus.

“Ons kom 120 jaar en deur hierdie tyd is dit juis georganiseerde landbou wat bly sorg vir kos, werksgeleenthede, uitvoer, verdiening van valuta, dat daar vrede, veiligheid en stabiliteit in die platteland is.”

Hy noem die vestiging van Agri Securitas saam met wyle oudpresident Nelson Mandela en die landbouplan wat saam met destydse President Thabo Mbeki onderhandel is, as hoogtepunte van wat georganiseerde landbou kan vermag. “Dit was een van die mooiste dinge wat ons kon bereik oor al hierdie jare, die erkenning dat ’n boer ’n wins moet kan maak.”

Grobler se raad vir die pad vorentoe: “Do not adapt or die”. 

“Ek hou nie daarvan nie, ’n leier adapt nie. Hy gee die pas aan. Ons het leierboere, ons het leiers in georganiseerde landbou. Hulle moet dink, hulle moet beplan. Hulle moet wegbly uit die politiek uit. Hulle moet die jonger boere kans gee.”

Die Agri Securitas-trustfonds het ook verskeie donasies op die aand ontvang. Voorsitter Cobus van Zyl verduidelik die fonds is in 1998 gestig toe president Mandela vra wat doen georganiseerde landbou vir landelike veiligheid.

Cobus van Zyl en Kobus Visser van Agri Securitas. Foto: OFM

“Oor die jare kry die fonds heelwat donasies van korporatiewe donateurs, soos byvoorbeeld OFM se bakkie-armprojek. Ons plaaslike en provinsiale unies maak dan die fondse beskikbaar aan plaaslike boereverenigings vir veiligheidsprojekte.”

Hy’t ook ’n uitnodiging aan die breë publiek gerig om betrokke te raak. “Besoek gerus www.agrisecuritas.org en raak ook betrokke by plaaslike boereverenigings se projekte. Dit maak regtig ’n groot verskil aan die werk wat ons doen.”

OFM Agri/Elzette Boucher-Krüger cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.