On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

NAMPO Alfa 2024: ’n Baken vir lewendehawe, landbou en buitelewe

───   ELZETTE BOUCHER 05:00 Thu, 10 Oct 2024

NAMPO Alfa 2024: ’n Baken vir lewendehawe, landbou en buitelewe | News Article
’n Blik op NAMPO Alfa 2023. Foto: Facebook/Limousin Cattle Breeders

“Met ’n stampvol program wat van topgenetika en kompetisies tot interaktiewe aktiwiteite strek, is NAMPO Alfa 2024 iets wat geen produsent of landbougeesdriftige moet misloop nie.”

Die lewende hawe- en buitelewe-ekspo, NAMPO Alfa, keer hierdie Oktober terug vir sy derde aflewering, wat beloof om nóg ’n indrukwekkende byeenkoms vir die Suid-Afrikaanse landbousektor te wees. Van 17 tot 19 Oktober 2024 sal die ekspo by NAMPO Park net buite Bothaville plaasvind.

Albert Loubser, een van die hooforganiseerders van die geleentheid, verduidelik hoe Alfa, sedert sy bekendstelling in 2016 in Parys, gegroei het: ”Dit was ’n redelike reis om die veeprogram sy voete te laat vind op NAMPO Park.” 

Ná ’n paar uitdagende jare het die ekspo nou ’n stewige basis en trek dit jaarliks duisende besoekers wat belangstel in veeboerdery en landbou. Die program het ook gegroei om meer as net beeste in te sluit; besoekers kan uitsien na ’n wye verskeidenheid diere, insluitend skape, bokke, melkbeeste, honde, perde en varke.

Een van die belangrikste aspekte van NAMPO Alfa is dat dit nie net ’n skou is nie, maar ’n ekspo. “By ’n ekspo is daar aktiwiteit, interaksie, en jy kan die nuutste tegnologieë sien en self ervaar,” verduidelik Loubser. In teenstelling met tradisionele skoue waar diere net in ’n ring vertoon word, bied NAMPO Alfa ’n platform waar die hele vleiswaardeketting verteenwoordig word. “Van miniatuurperde en konyne tot varke en pluimvee, daar is geen ander plek in die land waar soveel verskillende landbou-dissiplines onder een dak gebring word nie.”

NAMPO Alfa werk ook nou saam met ander skoue, aangesien die interras-wenners van dié skoue by NAMPO Alfa meeding om die nasionale titels. “Dit is ’n simbiotiese verhouding waar beide die ekspo en skoue hul spesifieke rol in die bedryf vervul.”

Dr. Dirk Strydom, besturende direkteur van NAMPO, sê die ekspo bied ’n kombinasie van jag, buitelewe en lewendehawe, wat die beste uitstallers en top-presterende diere ten toon stel. Die fokus is nie net op uitstallings nie, maar ook op die praktiese gebruik van produkte en tegnologie wat daar aangebied word.


“Ons poog om dinamies te bly en elke jaar iets nuuts by te voeg, terwyl ons die kern behou van wat NAMPO Alfa verteenwoordig.” Strydom het bygevoeg dat hulle vanjaar verwag om meer as 10,000 besoekers te verwelkom, vergeleke met die 8,000 wat verlede jaar deur die hekke gestroom het. “Die ekstra inisiatiewe, soos wapenopleiding en ander aktiwiteite, sal waarskynlik nog meer mense lok.”

Een van die opwindendste nuwe toevoegings tot die program vir 2024 is die betrokkenheid van georganiseerde landbou. Die Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) sal hul jaarlikse kongres tydens NAMPO Alfa aanbied, wat ’n groot eer vir die ekspo is. Hierdie kongres, tesame met die kleinboerekongres van NaLFA-SA, sorg vir ’n ongeëwenaarde verteenwoordiging van georganiseerde landbou op die geleentheid.

“Ons is ook trots om aan te kondig dat die Sernick-karkaskompetisie, wat ontwikkelende boere aanmoedig om hul vaardighede te wys, weer terugkeer,” sê Loubser.  

Van die ander hoogtepunte sluit in ’n 400-meter skietbaan waar besoekers verskillende wapens kan toets, asook demonstrasies deur uitstallers. Anders as die tradisionele NAMPO Oesdag, wat op grootskaalse, statiese uitstallings fokus, is NAMPO Alfa ’n “hands-on”-ervaring waar besoekers direk met die produkte en diere in aanraking kan kom. “Dis ’n unieke geleentheid waar besoekers fisies kan toets en beleef wat aangebied word,” vertel dr. Strydom.

Dan is daar die beeste-interras-kompetisie, wat as die “Curriebeker” van Suid-Afrikaanse veeboerdery beskryf word. Die beste manlike en vroulike wenners van die twaalf grootste landbouskoue in die land word genooi om deel te neem. “Hierdie is waarskynlik die mees gesogte titel in Suid-Afrikaanse veeboerdery,” sê Loubser.  

Hy deel ook dat PJ Budler, ’n baie bekende beoordelaar van die Verenigde State, hierdie jaar die taak het om die interras-kompetisie te beoordeel. “Ons is baie bly om hom te verwelkom, en met nuwe borge soos onder meer Old Mutual, verseker dit ook die volhoubaarheid van die kompetisie vir die volgende vyf jaar,” voeg Loubser by.

Bek-en-klouseer bly steeds ’n groot uitdaging in Suid-Afrika, veral met die onlangse uitbrekings in die Oos-Kaap. Loubser het verduidelik dat NAMPO Alfa uitstekende protokolle in plek het om die veiligheid van diere en besoekers te verseker. Hierdie protokolle, wat in 2019 saam met dr. Danie Odendaal ontwikkel is, is sedertdien suksesvol toegepas. “Ons is vol vertroue dat die biosekuriteitsmaatreëls honderd persent in plek is, en daar is geen rede vir enige bekommernis vir besoekers of diere nie.”

Hy het verder benadruk dat Suid-Afrika se vermoë om met bek-en-klouseer saam te leef en te beplan, die langtermyn-volhoubaarheid van die vee-sektor sal bepaal.

‘Ons moet voortdurend vra of ons relevant is’

Loubser beklemtoon dat NAMPO Alfa se rol in die Suid-Afrikaanse veeboerdery omgewing groot is, veral in ’n moeilike ekonomie. “Ons moet voortdurend vra of ons relevant is en of ons waarde toevoeg tot die bedryf. As die antwoord ooit nee is, sal dit die laaste Alfa wees wat ons aanbied. 

“Op hierdie stadium is dit egter duidelik dat NAMPO Alfa ’n belangrike bydrae lewer deur die nuutste tegnologie en wetenskaplike benaderings tot winsgewende veeboerdery aan besoekers voor te stel. Die ekspo bied ook ’n geleentheid vir die hele gesin om bymekaar te kom.


Met ’n stampvol program wat van topgenetika en kompetisies tot interaktiewe aktiwiteite strek, is NAMPO Alfa 2024 iets wat geen produsent of landbougeesdriftige moet misloop nie. “Ons sien uit na ’n pragtige ekspo vanjaar en verwelkom elke besoeker met ope arms,” sê Loubser.

Die vee-afdeling bied besoekers die kans om van die beste genetika in die land te sien. Diere wat op die ekspo uitgestal word, word gekies op grond van streng prestasievereistes, en besoekers het die geleentheid om met die telers self in gesprek te tree. 

‘Koop jou kaartjies vooraf aanlyn en vermy lang rye’

Veral kinders sal baat vind by die geleentheid om met die diere in aanraking te kom en meer te leer oor die vee-bedryf. Die ekspo bied ook vermaak vir die hele gesin, met aktiwiteite soos skattejag, hengelkompetisies, en selfs die kans om voertuie self te bestuur.

Kaartjies vir NAMPO Alfa, asook vir die spesiale aandgeleenthede soos Adam Tas se jagstories en ’n brandewynproe, is beskikbaar op Ticketpro se webwerf. Maak seker om jou kaartjies vooraf aanlyn te koop om lang rye te vermy en die meeste uit jou besoek aan hierdie uitmuntende ekspo te maak!

OFM-omroeper Anny Bruyns tydens NAMPO Alfa 2023. Foto: OFM

OFM is trots om die mediaborg van die geleentheid te wees en die OFM CLOSET sal ook oop wees vir besoekers om byderwetse klerasie aan te skaf. Kyk uit vir die OFM-span op die terrein vir ’n kans om te wen.

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.