On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

SA avo’s in China: Nuwe handelsmoontlikhede vir produsente

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Thu, 10 Oct 2024

SA avo’s in China: Nuwe handelsmoontlikhede vir produsente | News Article
Foto: iStock

“Die sukses van avokado-uitvoere na China kan verdere handelsgeleenthede ontsluit, terwyl bestaande markte in Europa en Afrika steeds prioriteit bly.”

Die verskeping avokado’s wat onlangs in Shanghai, China, aangekom het, is goeie nuus vir produksievooruitsigte.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer, Agbiz, meen hierdie verskeping, wat deur Wu Peng, die Chinese ambassadeur in Suid-Afrika, aangekondig is, vorm deel van ’n groter strategie om Suid-Afrika se landbou-uitvoere te versterk en bilaterale handel met China te bevorder.


Belangrikheid van China as ’n mark vir Suid-Afrika

Sihlobo beklemtoon die noodsaaklikheid van markuitbreiding vir Suid-Afrikaanse landbou. Hy verduidelik die landbousektor het sedert die oorgang na demokrasie groot groei beleef, wat aangedryf is deur verbeterde genetika, beter saad, en doeltreffender boerderypraktyke.

“In die afgelope 30 jaar het Suid-Afrika daarin geslaag om sy uitvoermarkte aansienlik te vergroot. In 2023 is bykans die helfte van landbouprodukte uitgevoer, wat in waarde terme sowat $13,2 miljard beloop het.”

China word gesien as een van die belangrikste markte vir verdere groei. Die land spandeer tans ongeveer $200 miljard per jaar op die invoer van landbouprodukte. Die onlangse verskeping van avokado’s, saam met ander produkte soos sitrus, wol en beesvleis wat reeds uitgevoer word, dra by tot die uitbreiding van Suid-Afrika se uitvoernetwerk na China.

Uitdagings en geleenthede

Sihlobo wys daarop hoewel China ’n groot en groeiende mark is, daar steeds struikelblokke is. Hoër invoertariewe en fitosanitêre hindernisse (gesondheidsregulasies vir plante) bly ’n uitdaging.

Hy noem dat ministers van sleuteldepartemente in Suid-Afrika – insluitend Minister van Handel en Nywerheid, Ebrahim Patel, en Minister van Landbou, John Steenhuisen – aktief betrokke moet bly in onderhandelings met hul Chinese eweknieë om hierdie hindernisse aan te spreek. Dit sal verseker dat meer Suid-Afrikaanse produkte toegang kry tot die Chinese mark.

China-markte deel van ’n groter strategie

Ten spyte van die fokus op China, beklemtoon Sihlobo dat dit nie beteken dat ander markte afgeskeep word nie. Hy verduidelik dat die Europese Unie steeds ’n belangrike uitvoermark vir Suid-Afrika bly, sowel as die res van Afrika en die Amerikas.

“Ons fokus op China en die Brics-lande is in bykomend tot die markte wat ons reeds bedien, nie in plaas daarvan nie.”

Hierdie stap om nuwe markte te ontsluit, spesifiek in China en die Midde-Ooste, bied belowende geleenthede vir Suid-Afrikaanse boere om hul produkte aan groter internasionale markte bekend te stel en waarde vir die plaaslike landbou-ekonomie te skep.

OFM Agri/Robyn Schutte mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.