On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Vrystaat Landbou skakel met nuwe Landbou LUR

───   13:32 Thu, 18 Jul 2024

Vrystaat Landbou skakel met nuwe Landbou LUR  | News Article
Foto: Verskaf

Die vergadering het saamgestem dat samewerking noodsaaklik is om landbou in die provinsie vorentoe te neem.

Vrystaat Landbou (VL) het onlangs met die nuutaangestelde LUR vir Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingsake, me. Elzabé Rockman, vergader om kritieke kwessies wat die landbousektor raak, te bespreek. Die vergadering wat op Vrydag (12/7) gehou is, het ’n reeks onderwerpe gedek, insluitend plaasveiligheid, oorgrensmisdaadsindikate, ramphulpkoördinering, padtoestande, waterregte, dieregesondheid en naspeurbaarheid.

“Die feit dat sy voorheen by die Provinsiale Tesourie betrokke was, meen dat sy reeds die finansiële uitdagings van landbou sal verstaan,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou.

‘Die kommersiële sektor is afgeskeep’

Die LUR het tydens die ontmoeting erken dat “die kommersiële sektor afgeskeep is” het en het ook verder gesê dat “elke rolspeler in landbou belangrik is.”

In terme van befondsing van opkomende boere het die LUR aan VL gesê dat die departement nie dieselfde mense vir altyd as opkomende boere wil sien nie. “Hulle moet uiteindelik na kommersieel toe vorder en hiervoor gaan hulle VL se hulp benodig,” sê dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder, van VL.

Die LUR van Landbou en Omgewingsake het verskillende landbou-organisasies in die Vrystaat ontmoet. Haar kern uitgangspunte/projekte was:

  • Om die Glen plaas en die Landbou kollege te prioritiseer en om Glen uit te bou as ’n Sentrum van Uitnemendheid. Die LUR besef die probleme in en om Glen en het op 11 Julie 2024 ’n vergadering belê met die landbouvereniging en grondeienaars rondom Glen. Sy het die LUR Gemeenskapveiligheid, Paaie en Vervoer ook na die vergadering genooi asook die Mangaung Metro Burgermeester en die plaaslike Glen polisiekantoor se stasiebevelvoerder.
  • Om rampe, veral veldbrande, in die provinsie beter te koördineer tussen die verskeie departemente onder wie die Brandwet en Rampbestuur ressorteer, asook die skakeling tussen die verskillende vlakke van regering. Die LUR het bygevoeg dat “bystand relevant, betyds en effektief moet wees”.

VL bedank die LUR dat sy vinnig by die onlangse brande op en om Clarens, asook die Petrusburg-omgewing uitgekom het, met die leier- en geaffekteerde boere in die omgewing gesels het en die proses van data-insameling begin het. Sy het genoem dat die fondse nooit genoeg is om almal volledig te kan help nie. 

VL doen daarom weer ’n beroep op die publiek om landbouers by te staan deur VL se rampfonds te ondersteun om ons geaffekteerde boere te help.

Die vergadering het saamgestem dat samewerking noodsaaklik is om landbou in die provinsie vorentoe te neem. Wilken het afgesluit met die woorde, “die Departement gaan die werklike kwessies moet aanspreek. Indien hulle dit doen, is ons hande oop om saam te werk”.

Verklaring verskaf cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.