On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Boere in Vaaldriehoek benodig dringend voer ná brande

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:24 Mon, 15 Jul 2024

Boere in Vaaldriehoek benodig dringend voer ná brande | News Article
Foto: OFM

“Ons weivelde is ook afgebrand.”

Boere in die Vaaldriehoek het deurgeloop onder verwoestende brande wat groot skade aan hul eiendom aangerig het.

“Boere in die omgewing van Vanderbijlpark het die afgelope naweek (12/7) ernstige verliese gely toe ‘n brand al hul voer vernietig het. Een van die boere se dringendste behoefte is om sy voervoorrade aan te vul,” sê Hennie Malan, ’n boer van Klipkop.

“Ná onlangse brande in die omgewing het al die diere versorging nodig. Ons weivelde is ook afgebrand,” sê hy.

Vee in die Vaaldriehoek benodig dringend voer. Foto: Hennie Malan

“Die oorsprong van die brand is onbekend. Weens die sterk wind was dit onmoontlik om die brand te blus. Boere van ons omgewing het bontgestaan, maar die brand het oor twee grondpaaie gespring. Een boer het 40 ha mielies verloor en baie ander het hul weiveld verloor.”

Malan sê die boere het nie die finansiële hulpbronne om voer te koop vir die diere wat in die krale vasgekeer is nie. “Ons vra hulp van die gemeenskap en enigiemand wat ons kan bystaan met voer vir die diere.”

Die oorsaak van die veldbrande is onbekend. Foto: Hennie Malan

“Veldbrande, ook bekend as bosbrande, kom algemeen voor in Suid-Afrika veral in die droë seisoen van Mei tot Oktober in die noorde en November tot April in die suide,” sê Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis.

“Hierdie brande kan natuurlik ontstaan weens weerlig maar word dikwels veroorsaak deur ongemagtigde brande, onbewaakte kampvure, weggegooide sigaretstompies, sweiswerk en kwaadwillige of misdadige optrede.”

Veldbrande versprei baie vinnig as dit droog is. Foto: Hennie Malan

AfriForum waarsku die noorde van die land is baie droog wat dit besonder kwesbaar maak. Dit sluit in die Noord- en Oos-Kaap, die Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal.

AfriForum raai mense aan om belangrike dokumente in ’n vuurvaste kluis te bêre, asook om digitale kopieë daarvan te maak. 

Cooks sê veldbrande kan vinnig versprei. Vlamme kan hoogtes van 5 m tot 15 m bereik en ‘n snelheid van meer as 4 km/h. “Hierdie brande hou ernstige risiko’s in vir eiendom, mense en diere.”

Boere in die Vaaldriehoek moes bontstaan om die vlamme te blus. Foto: Hennie Malan

Stropers wat ’n veldbrand veroorsaak om diere in ’n bepaalde rigting te dwing, is ’n volgens AfriForum ’n nuwe tendens wat sy kop uitsteek. “Honde word dan losgelaat om hierdie diere in die spesifieke rigting aan te jaag wat dit makliker maak vir die jagter om die diere te jag.

“Nog ’n oorsaak van veldbrande is asgate waarin vullis gebrand word, terwyl ander oorsake selfs kwaadwillig kan wees,” sê Cooks.

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.