On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Byeboerdery iets bzzsonders

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Wed, 04 Sep 2024

Byeboerdery iets bzzsonders | News Article
Voornemende byeboere tydens ’n opleidingsessie wat deur The Bee Shop aangebied is. Foto: Facebook

“Kenneth Nel, die eienaar van The Beeshop, ’n winkel wat ’n wye verskeidenheid byeprodukte en byeboerdery-toerusting verkoop, deel sy insigte oor hoe om met byeboerdery te begin en die uitdagings wat die bedryf tans ervaar.”

In die hedendaagse landboubedryf word die belangrikheid van byeboerdery ál meer erken.

Kenneth Nel, eienaar van The Bee Shop, ’n winkel wat ’n groot verskeidenheid byeprodukte en -boerderytoerusting verkoop, deel sy insigte oor hoe om met byeboerdery te begin, en die uitdagings wat die bedryf ervaar.

Nel het The Bee Shop tydens die Covid-19-pandemie begin toe hy opgelet het dat daar ’n groot vraag was vir kennis en toerusting vir byeboerdery.

‘Jy het basies ’n korf, ’n roker en ’n borsel nodig, tesame met beskermingsklere’

“Ek het gesien dat daar geen winkel in die Vrystaat of Noord-Kaap was wat byeboerderykennis en -toerusting aangebied het nie. Dit het my geïnspireer om ’n winkel oop te maak en ons passie en kennis met almal te deel,” vertel Nel.

Daar is nie veel toerusting nodig om met byeboerdery te begin nie. “Jy het basies ’n korf, ’n roker en ’n borsel nodig, tesame met beskermingsklere.

“Dit is betreklik goedkoop en jy kan met jou eerste oes reeds begin om die koste te dek. Begin klein en groei saam met jou byeboerdery.”


Vir diegene wat nuut is in byeboerdery, raai Nel aan om ’n praktiese kursus te volg. “Daar is goedkoop kursusse beskikbaar wat alles van basiese byeboerdery leer.

“Dit is belangrik om nie blindelings in die bedryf in te spring nie, maar eerder kennis op te doen en te verstaan wat vereis word.”

Nel beklemtoon die belangrikheid van die ligging van ’n byekorf. “Die korwe moenie in woongebiede geplaas word nie. Dit is ook belangrik om te kyk na die gebruik van plaagdoders en om te verseker dat daar water naby die korwe is.”

‘Ek sien baie potensiaal vir nuwe boere om in die bedryf in te stap’

Een van die unieke byprodukte is propolis, bekend as ’n natuurlike antibiotika. 

Nel is optimisties oor die toekoms van byeboerdery in Suid-Afrika. “Daar is ’n groot tekort aan byekaste in die land en ’n toenemende vraag na byeprodukte.

“Die mark is daar, en ek sien baie potensiaal vir nuwe boere om in die bedryf in te stap en suksesvol te wees.”

OFM Nuus/Robyn Schutte mvh/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.