On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Vrystaat Landbou: Nuutste statistiek oor plaasaanvalle

───   06:00 Wed, 10 Jul 2024

Vrystaat Landbou: Nuutste statistiek oor plaasaanvalle | News Article
Foto: Getty Images.

“Vrystaat Landbou het ’n gebeurlikheidsplan in werking gestel vir plaaswerkers en inwoners op plase, in reaksie op die toename in aanvalle.”

Plaasaanvalle in die Vrystaat het oor die laaste drie maande toegeneem. Dr. Jane Buys, ’n veiligheidsrisiko-analis by Vrystaat Landbou vertel die nuutste statistiek toon tussen April en Junie vanjaar was daar tien plaasaanvalle, wat twee moorde ingesluit het. Hierdie voorvalle het die lewens geëis van ’n produsent en sy vrou, asook inwoners op plase wat geskiet is en later aan hulle wonde beswyk het.

In dieselfde tydperk verlede jaar was daar nege plaasaanvalle, wat vier moorde ingesluit het. In daardie insidente was werkers, inwoners en ’n produsent onder die slagoffers wat aangeval en vermoor is.

Buys het beklemtoon dat Vrystaat Landbou enige aanvalle en moorde op produsente, opkomende boere, werkers en inwoners op plase ten sterkste veroordeel. Sy het ook daarop gewys dat Ficksburg en Ladybrand as hoë misdaad areas na vore gekom het, met drie ernstige geweldsmisdade wat moorde insluit.

Vrystaat Landbou het ’n gebeurlikheidsplan in werking gestel vir plaaswerkers en inwoners op plase, in reaksie op die toename in aanvalle op hierdie groepe. Buys verduidelik dat hierdie plan dien as ’n riglyn vir produsente, boere en opkomende boere om die veiligheid van hulle werkers en inwoners te verseker.

Die plan beklemtoon die belangrikheid van kommunikasie en bewusmaking, en moedig werkers aan om enige verdagte bewegings op of naby die plase te rapporteer.

Buys het verder aangeraai dat boere betrokke moet wees by hul veiligheidsplanne en hierdie planne saam met die polisie moet inoefen. Sy beklemtoon die noodsaaklikheid van beter kommunikasie en samewerking tussen die polisie se landelike veiligheidskoördineerders en stasiebevelvoerders, veral deur maandvergaderings binne die landelike beveiligingstrategie.

OFM Agri/Johan Gunter mvh/cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.