Agriculture
Impak van klimaatsverandering op weerstelsels─── ELZETTE BOUCHER 05:00 Wed, 22 May 2024
“Hoewel klimaatsverandering nie ’n nuwe verskynsel in die bestaan van die Aarde is nie, moet ons egter besin oor of ons huidige natuurlike en mensgemaakte stelsels die impak daarvan kan weerstaan.”
’n Geringe temperatuurspeling in ons oseane kan ’n beduidende impak op reënvalpatrone teweegbring.
Anika de Beer, bekende Meteoroloog en besturende direkteur van Restore Africa, het by ’n Nasie In Gesprek-paneelbespreking tydens Graan SA se NAMPO Oesdag verduidelik dat ’n blote 0,5 °C verskil in see-oppervlaktemperatuur die verskil kan wees tussen ’n El Niño-Suidelike Ossillasie (ENSO)-neutrale jaar en ’n El Niño-jaar; of tussen ’n matige en sterk ENSO-jaar.
“Hierdie klein temperatuurafwyking onderstreep die sensitiwiteit en onderlinge verband van globale klimaatstelsels. Klimaatsverandering kan die tempo van omgewingsverandering versnel bó die natuurlike aanpassingsvermoëns van hierdie stelsels.”
Hierdie versnelling vereis dus aansienlike en dikwels drastiese kompromieë vir aanpassing in beide natuurlike en mensgemaakte omgewings.
De Beer verduidelik verder dat ENSO hoofsaaklik tussen Suid-Amerika en Australië plaasvind, wat weerstelsels wêreldwyd beïnvloed.
“Dit behels die meting van see-oppervlaktemperature rondom die ewenaar, wat deur spesifieke winde in die streek beheer word. El Niño en La Niña, die twee fases van ENSO, speel deurslaggewende rolle in die bepaling van globale klimaatpatrone.
“La Niña, gekenmerk deur ondergemiddelde see-oppervlaktemperature, lei gewoonlik tot koeler en natter toestande. Omgekeerd, bring El Niño, gekenmerk deur bogemiddelde see-oppervlaktemperature, gewoonlik droër en warmer toestande.”
See-oppervlaktemperature tydens El Niño en La Niña. Grafieka: ABC Weatherzone
Weervoorspellings dui op die aanvang van ’n swak La Niña-fase, wat herinner aan die driedubbele La Niña wat van 2021 tot 2023 ervaar is. Sulke langdurige La Niña-tye is skaars, met slegs vier voorvalle sedert 1950 aangeteken. Ten spyte van die natuurlike sikliese aard van La Niña en El Niño, verskerp klimaatsverandering hierdie siklusse.
“Die 2015-2016 El Niño, was een van die sterkstes tot op hede. Dit het landbouproduksie in Suid-Afrika erg geraak, wat gelei het tot histories lae mielie-opbrengste. Hierdie gebeurtenis het die kwesbaarheid van die landbousektor vir uiterste weerstoestande beklemtoon.”
Klimaatsverandering vererger die intensiteit van El Niño-gebeure, wat lei tot meer gereelde voorkoms van baie sterk El Niños in vergelyking met die meer gematigde toestande wat histories gesien word. “Hierdie sterker toestande het meer merkbare uitwerking op weerpatrone, landbou en ekonomieë, wat dringende aanpassingsmaatreëls noodsaak.”
Meteoroloog, Anika de Beer tydens die paneelbespreking. Foto: OFM
De Beer meen dis noodsaaklik om die ingewikkelde dinamika van ENSO en die implikasies daarvan te verstaan vir die ontwikkeling van effektiewe aanpassingstrategieë. “Namate klimaatsverandering aanhou versnel, sal die veerkragtigheid van beide natuurlike en mensgemaakte stelsels toenemend getoets word.”
Beleidmakers, wetenskaplikes en gemeenskappe moet saamwerk om aanpassingsvermoëns te verbeter en die nadelige gevolge van hierdie klimaatsveranderinge te versag.
OFM Agri mvh