Agriculture
Wolbedryf bly positief ondanks uitdagings─── 06:00 Thu, 30 Jan 2025
Ondanks lae wolpryse bly die bedryf steeds een van die steunpilare van die landbousektor en die ekonomie.
Dan Kriek, uitvoerende hoof van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), spreek in ’n onderhoud met OFM Agri se Pieter Möller sy optimisme oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse wolbedryf uit.
Volgens Kriek word 90% van Suid-Afrika se wol uitgevoer, wat dit ’n belangrike kommoditeit in die internasionale mark maak. Hy sien groot potensiaal in volhoubare produksiepraktyke, aangesien verbruikers wêreldwyd toenemend op soek is na omgewingsvriendelike produkte.
Wol, as ’n natuurlike en hernubare vesel, is ideaal geposisioneer om aan hierdie eise te voldoen.
’n Verdere kernfokus van die NWKV is om ’n inklusiewe organisasie te wees. Die vereniging ondersteun klein- asook kommersiële boere, met ’n besondere fokus op die ontwikkeling van opkomende en kommunale boere.
Veral in gebiede soos die diep binneland van die Oos-Kaap, waar ekonomiese geleenthede beperk is, bied wolproduksie plaaslike ontwikkeling ’n broodnodige hupstoot.
Ten spyte van die huidige ekonomiese uitdagings en histories lae wolpryse bly Kriek optimisties. Hy verduidelik landboubedrywe beweeg in siklusse en verwag ’n herstel in die mark.
Nóg ’n rede tot trots vir die NWKV en die wolbedryf is die uitstaande prestasies van Suid-Afrikaanse skaapskeerders in die wêreldarena. Kriek noem spesifiek die wêreldkampioene wat onlangs saam met die Springbokke op die rugbyveld vereer is.
Hierdie prestasies weerspieël nie net die gehalte van Suid-Afrikaanse wol nie, maar ook die hoë standaarde van opleiding wat deur die NWKV aan skaapskeerders gebied word.
Kriek, wat van die Vrystaat afkomstig is, geniet sy werk in die Oos-Kaap en beklemtoon dat sy rol hom regoor die land neem. Hy bly toegewyd aan die welsyn van alle wolboere en die groei van die bedryf.
OFM Agri mvh