Agriculture
Trotseer landbourisiko’s met ’n gesonde siel, gees en liggaam─── ELSABÉ RICHARD 15:00 Mon, 28 Aug 2023
‘n Gesonde liggaam, siel en gees is belangrik om landbourisiko’s te trotseer.
Dit was vanjaar die kernfokus en tema van Agri Noord-Kaap se 44ste jaarkongres.
Suid-Afrikaanse boere ervaar geweldige druk namate pryse van noodsaaklike insette toeneem, én angs weens gereelde plaasaanvalle en -moorde. Daarom het die landbouorganisasie dié tema gekies om boere daaraan te herinner dat hulle ook na hul eie gesondheid en welstand moet omsien terwyl hulle daagliks die uitdagings aanpak.
"Dit is noodsaaklik dat ons moet besef dat ons ook na onsself moet kyk. Ons moenie net na onsself kyk ten opsigte van ons boerdery of ons besigheid nie, maar ook na ons eie liggaam."
"Ons moet kyk dat ons gesond is, want as ons gesond is dan kan ons werklikwaar aktief deelneem aan die ekonomie.
"Dis belangrik om dan die regte ingesteldheid te hê. So, ons moet ook hier bo in ons kop regtigwaar reg gefokus wees.
"En dan moet ons 'n geestelike fondasie hê waarop ons kan werk," sê Nicol Jansen, voormalige Agri Noord-Kaap-president.
Paneelbespreking oor elektrisiteit in Suid-Afrika op dag twee. Van links na regs: Dirk Krapohl, Nicol Jansen, Dawie Maree, Chris Schutte en Gerrit Meyer.
Die kongres het ’n onskatbare platform gebied vir boere, belanghebbendes en kundiges om betrokke te raak, ervarings te deel en gesamentlik oplossings te vind vir komplekse uitdagings in die landbougemeenskap.
Deur 'n omgewing van oop dialoog te bevorder, het Agri Noord-Kaap sy toewyding getoon om die fisieke, geestelike en emosionele welstand van boere te ondersteun, terwyl hulle ook relevante kwessies aanspreek wat hul lewensbestaan beïnvloed.
Soos die kongres afgesluit het, was die boodskap duidelik – 'n gesonde liggaam en gees vorm die grondslag waarop boere veerkragtigheid kan bou en in eenheid die risiko's wat landbou inhou, kan oorkom.
Sprekers het ingesluit die Vrystaatse boer en entrepreneur Albert Ferreira van Senekal, Christo van der Rheede en Andrea Campher – albei van Agri SA en FNB-ekonoom Dawie Maree om net 'n paar te noem.
Nuwe president
Willem Symington neem nou die leisels by Jansen oor nadat hy op Agri Noord-Kaap se jaarkongres verkies is as die nuwe president van Agri Noord-Kaap.