On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Produsente vra verdere tariewe vir gevriesde hoender

───   ELSABÉ RICHARD 08:19 Tue, 01 Aug 2023

Produsente vra verdere tariewe vir gevriesde hoender | News Article
Foto: Pixabay via Pexels

Hoendervleisprodusente het aansoek gedoen dat tariewe op ingevoerde hoendervleis weer ingestel moet word nadat die Minister van Handel en Nywerheid verlede jaar teenstortingstariewe opgehef het.

'n Professor aan die Noordwes Universiteit, Waldo Krugell, sê dié opheffing was om die prys van ingevoerde hoender te verlaag en verbruikers wat gebuk gaan onder ’n hoë voedselprysinflasie te help. 

" ’n Mens dink die vraagstuk is so eenvoudig soos, wil die Minister die bedryf of die verbruiker help, maar dit is meer ingewikkeld as dit.

"Eers moet ’n mens dit duidelik maak dat dit nie oor alle hoedervleis gaan nie, maar oor gevriesde hoenderstukke met bene in," verduidelik Krugell.

Hy sê daar is rééds 'n tarief van 60% op daardie invoer, en produsente vra nou vir 'n bykomende 30% teenstortingstarief om weer ingestel te word.

Die tarief is op die sogenaamde vry-aan-boord-prys wat ongeveer 35% van die kleinhandelprys uitmaak.

Ander uitdagings vir pluimveeboere

Die pluimveebedryf gaan intussen onder verskeie uitdagings gebuk wat onder meer deur beurtkrag, siektes en hoë insetkoste veroorsaak word. Dit demp produsente se winsmarges verder.

FNB se Paul Makube voeg by dat alhoewel Suid-Afrika goed van hoender voorsien word, het voortdurende kragonderbrekings reeds gedurende Desember 2022 bedrywighede ontwrig toe die intermitterende beskikbaarheid van hoendervleis deur sommige kitskoswinkels ervaar is.

Namate kragonderbrekings vererger het, is die hele waardeketting egter geraak. Dit het abattoirs, voermeulens en ander prosesse ingesluit.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.