Agriculture
Mening: Pleidooi vir landbou se oorlewing – Francois Wilken─── 07:14 Wed, 18 Dec 2024
Boere staan voor die grootste oorlewingskrisis nog. Ongeag wat ekonome en ander kenners wil voorgee, is boere in die moeilikheid – finansieel, emosioneel en geestelik.
- Deur Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou
Boere is prysnemers, aan inset- en uitsetkant én betaal nog die vervoer weerskante toe. Dit is tyd dat ons kyk wat die werklike faktore is wat gelei het tot die krisis waarin produsente hulle nou bevind.
Die droogte speel wel ’n rol, maar ons het goeie reënjare gehad – waarom maak boere nie meer wins om swak jare te verlig nie?
Faktore wat ’n rol speel
Met tyd het insette net bly styg en boere is gemanipuleer om dit as ’n gegewe te aanvaar.
Die probleem is dat insetverskaffer-maatskappye internasionaal al verder wegbeweeg van die boer op die grond en wat ons uitdagings is. Winste vir aandeelhouers is belangriker as die oorlewing van die sektor waarom elke land se voortbestaan draai.
Die insetborrel gaan bars! Waarom kos mieliesaad R300 000 per ton teen ’n graanprys van R4 000 per ton? Die koste van landboutoerusting is totaal buitensporig en onbekostigbaar.
’n Bekende groen maatskappy wat landboutoerusting in Amerika vervaardig se hoof- uitvoerende beampte verdien R1 282 191 per dag! Dit sê alles. Om net as voorbeeld te noem, maar daar sal lang verduidelikings wees om dit te regverdig.
‘Julle weet nie wat met boere aangaan nie’
Moenie ons boere se intelligensie onderskat nie! Veeboere se insette soos veemedisyne, toerusting en konsentrate is onbekostigbaar en kan ons nie meer teen huidige pryse winsgewend boer nie.
Met tyd is ons boere aangemoedig om beter praktyke toe te pas met bewaringsboerdery en so meer om kunsmis en gif te bespaar. Insetverskaffers het egter die kuns vervolmaak om daardie besparing in hulle eie sakke te kry. Net soos hulle winste in ’n goeie jaar kanaliseer na aandeelhouers en direkteure se sakke met die volgende seisoen se insette.
So kan Agbiz en Agri SA die negatiewe syfer vir landbou van 28% betwyfel. Om wat te bereik? Dit te verlaag na 20% om die indruk te wek dat dit nie so sleg gaan met landbou nie? Julle weet nie wat met boere aangaan nie, want julle fokus ongelukkig net op wat ná die plaashek gebeur.
‘Bly positief, wees veerkragtig, pas aan’
Boere is trotse mense wat nie maklik praat oor hoe dit werklik gaan nie. Ek het die voorreg om met baie boere te praat en ek kan bevestig: dit gaan nie goed nie! Daar is baie onsekerheid en wanhoop.
Boere word gedurig oorlaai met syfers en statistieke, vooruitskattings en aannames deur sogenaamde geleerdes. Ons is die mense wat die houe vat as dinge skeef loop. Almal ná die plaashek kry nog salarisse.
Boere moet heeltyd hoor ‘bly positief, wees veerkragtig, pas aan’ … Dit is komend van mense wat nie ons emosies en oorlewingstryd verstaan nie.
Boere ís optimiste en positief, anders sou ons nie geboer het nie. Die natuur ken ons, goed en sleg, risiko’s is deel van ons bestaan, maar om uitgebuit te word kan ons nie verder verswyg nie.
Die twee pole
Boere word gereeld die skuld gegee vir hoë voedselpryse, maar kom ek verduidelik:
Die aarde het twee pole, Suid en Noord. Beskou die Suidpool as die produsente en die Noordpool as die verbruiker.
Die Suidpool (produsent) is ’n prysnemer, hy bepaal geen prys nie, in- of uitset. Die Noordpool (verbruiker) betaal wat hy gevra word. In die middel is ’n vet boepens wat bepaal. As die pole vernietig word, draai hy van sy as af en stort als in duie.
‘Dit is ’n wêreldprobleem’
Dit klink omstrede en ek sal kritiek kry, maar dit het tyd geword om wakker te skrik en die gevolge direk te konfronteer! Maak oop julle oë en praat direk met die boer.
Pasop om net na die sogenaamde groot prominente boere te gaan, daar is baie ander boere ook en niemand gaan gespaar bly nie. Party gaan dalk net ’n bietjie langer oorleef – dit is onvolhoubaar vir almal.
Daar is nog baie te sê, maar kom ons begin hier. Ek pleit: as jy in die middel is en kwaad of geteiken voel, kom ons praat. Hierdie is egter nie net ’n Suid-Afrikaanse probleem nie, dit is ’n wêreldprobleem. Boere word oral uitgebuit en beskuldig. Kom ons probeer dit regstel.
Julle sien wat in ander lande gebeur …
- Verklaring verskaf
OFM Agri mvh