On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Agri Noord-Kaap: Boere is hartklop van die land

───   ELZETTE BOUCHER 07:19 Wed, 18 Dec 2024

Agri Noord-Kaap: Boere is hartklop van die land  | News Article
Boere by Agri Noord-Kaap se kongres vroeër vanjaar. Foto: Agri Noord-Kaap

Die afgelope jaar het talle uitdagings vir boere meegebring, maar ook die krag en deursettingsvermoë van die landbougemeenskap beklemtoon.

Dirk Krapohl, uitvoerende hoof van Agri Noord-Kaap, het met OFM Agri gepraat oor die struikelblokke én suksesse van 2024.

“Ons het aan die begin van die jaar steeds groot uitdagings met kragonderbrekings gehad, maar deur harde werk en ons betrokkenheid by ’n load curtailment-proses, kon ons verligting bring. Ons was ook deel van nasionale toetse vir slimmeters in die landbou wat baie belowend is vir die toekoms.”

Hoewel beurtkrag tydelik opgeskort is, duur pogings voort om langtermynoplossings te verseker.”

Die dramatiese styging in die nasionale minimum loon in Maart het landbouers landwyd finansieel uitgedaag. “Ons by Agri SA en Agri Noord-Kaap het alles in ons vermoë gedoen om die impak hiervan op die sektor te kommunikeer.”

Terwyl brande hierdie jaar minder intens was as voorheen bly die risiko’s steeds hoog. Agri Noord-Kaap speel ’n sentrale rol in die koördinering van brandbeskermingsverenigings in die provinsie en bied opleiding om die stryd teen veldbrande te versterk.

Die swak toestand van paaie in die Noord-Kaap bly egter ’n groot bekommernis. “Ons is in gesprek met die owerhede en sien stelselmatige vordering.”

Waterbestuur bly ’n dringende saak. “Ons riviere is in ’n haglike toestand en daar is strafsake aanhangig gemaak teen munisipaliteite wat by besoedeling betrokke is. Grondwaterbesoedeling in myngebiede is ’n verdere bron van kommer.”

Die toenemende droogte in die westelike gedeeltes van die Noord-Kaap en Boesmanland raak al meer kritiek in die provinsie. “As ons nie binne die volgende twee tot drie maande reën kry nie, wag daar ernstige uitdagings.” 

Hy doen ’n beroep op die publiek om bydraes te maak tot Agri Noord-Kaap se droogtehulpfonds om noodsaaklike ondersteuning aan boere te bied.

Red ’n Plaas, Red ’n Gemeenskap

Ten spyte van die uitdagings was daar ook ligpunte. Agri Noord-Kaap het deelgeneem aan die suksesvolle Camino-projek, Red ’n Plaas, Red ’n Gemeenskap, in Victoria-Wes. 

“Verder het Agri SA vanjaar hul 120ste bestaansjaar gevier wat ’n geleentheid vir netwerk en samewerking gebied het.”

Hy beklemtoon verandering neem tyd, maar dat daar hoop is vir verbetering in die sektor. “Ons is dankbaar vir die positiewe gesprekke met ons provinsiale en nasionale owerhede.”

Met Kersfees om die draai, het Krapohl sy waardering uitgespreek vir die landbougemeenskap. 

“Ons boere is die hartklop van ons land. Julle werk is nie net belangrik nie – dit is heilig. Mag God julle hande versterk, julle harte bemoedig en julle land vrugbaar maak. Geseënde Kersfees en voorspoedige nuwe jaar aan almal.”

Vir meer inligting oor droogtehulp en ander inisiatiewe, besoek Agri Noord-Kaap se webwerf by www.agri.co.za.

OFM Agri dg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.