Agriculture
Noordwes se boere kom saam deur droogte, misdaad, en gebrekkige dienslewering─── ROBYN SCHUTTE 19:06 Mon, 16 Dec 2024
Naudé Pienaar, hoofbestuurder van Agri Noordwes, kyk terug na 2024 as 'n jaar vol uitdagings, maar ook betekenisvolle hoogtepunte.
Uitdagings in 2024
Die droogte wat groot dele van Noordwes lamgelê het, sowel as toenemende plaasaanvalle en swak dienslewering, het oorheersend gebly.
Pienaar noem die droogte as die grootste struikelblok van die jaar. “Weidings was baie swak en oeste het ondergemiddeld gebly in die meeste gebiede. Dit het ’n vernietigende impak gehad op ons landbousektor.”
Hy wys ook op die toenemende probleme van swak munisipale bestuur en dienslewering, wat bygedra het tot water- en elektrisiteitsprobleme. “Die ineenstorting van plaaslike regering lei tot vermorsing en besoedeling van water, terwyl baie gemeenskappe sonder basiese dienste sit.”
Ligpunte van samewerking en leierskap
Ondanks die uitdagings, was daar ook merkbare hoogtepunte. Pienaar verwys na die sukses van Agri Noordwes se leierskapsfunksie, waar boerdery- en geestelike leiers saam besin het oor die toekoms. “Dit was inspirerend om ons jong boerwenners en voormalige voorsitters te sien deelneem aan strategiese besprekings oor hoe ons ons organisasie kan verbeter.”
Hy beklemtoon ook die samewerking tussen boere, die polisie en die NVG wat tasbare resultate opgelewer het in sekuriteitskwessies. “Die bereidheid van mense om saam te staan en mekaar te beskerm, bly ’n sterkpunt van ons gemeenskap.”
Kersboodskap van hoop
Pienaar herinner aan die belangrikheid van gemeenskaplike pogings en samewerking om uitdagings die hoof te bied. “As ons ’n beter toekoms vir ons kinders wil bou, moet ons saamstaan en proaktief dink oor oplossings.”
Hy sluit sy boodskap af met dankbaarheid en ’n gebed vir reën. “Mag ons gesinne en gemeenskappe die Jesus-fees beleef met vrede en oorvloed. Mag ons ook binnekort geseën word met sagte reën wat hierdie droogte breek.”