On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Olebogeng
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

International

Israel wil appelleer teen lasbriewe vir Netanyahu, oudminister

───   06:55 Fri, 29 Nov 2024

Israel wil appelleer teen lasbriewe vir Netanyahu, oudminister | News Article
Israel se premier, Benjamin Netanyahu, hou ’n veiligheidsevaluering by Camp Dayan. Langs hom is Israeliese minister van verdediging Yoav Gallant (links) en die weermag se Herzi Halevy. Foto: Haim Zach/GPO

Israel sal appelleer teen die Internasionale Strafhof (IS) se lasbriewe vir die inhegtenisneming van sy premier en oudminister van verdediging.

Regters het verlede week lasbriewe uitgereik vir premier Benjamin Netanyahu, oudmin. Yoav Gallant en Mohammed Deif, militêre bevelvoerder van Hamas. Hulle sê daar is redelike gronde om te glo dié drie mans is strafregtelik verantwoordelik vir beweerde oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in Gasa.

Israel se regering, saam met Netanyahu en Gallant, verwerp die beskuldigings ten sterkste.

Die premier se kantoor het volgens die BBC Woensdag (28/11) gesê hy het die IS in kennis gestel van sy “voorneme om daarteen te appelleer, tesame met ’n eis om die implementering van die lasbriewe vir die inhegtenisneming uit te stel”.

Die lasbriewe is fel deur Netanyahu en ander Israeliese politici gekritiseer. Die premier het die hof van antisemitisme beskuldig en belowe dit sal hom nie afskrik om Israel te verdedig nie. “Die staat Israel betwis die jurisdiksie van die IS en die legitimiteit van die lasbriewe vir inhegtenisneming,” het Netanyahu se kantoor gesê.

“As die hof hierdie versoek verwerp, sal dit verder aan Israel se vriende in die Verenigde State en wêreldwyd toon hoe bevooroordeeld die IS teen die staat Israel is,” het hy bygevoeg.

Die IS het nie direkte kommentaar op Israel se appèl gelewer nie. “As versoeke om appèl ingedien word, sal dit vir die regters wees om te besluit,” het Fadi El-Abdallah, IS-woordvoerder, aan verslaggewers gesê toe hulle hom daaroor pols.

Die hof het ook ’n lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik vir die militêre hoof van Hamas. Israel het vroeg in Augustus gesê hulle het Deif in Julie in ’n lugaanval in die suide van Gasa doodgemaak, maar Hamas het nie sy dood bevestig nie.

Die hof het op 21 November gesê hy het “redelike gronde” om te glo Netanyahu en Gallant strafregtelik aanspreeklik vir die misdaad van hongersnood as ’n metode van oorlogvoering, sowel as misdade teen die mensdom, naamlik moord, vervolging en ander onmenslike optredes.

Die Suid-Afrikaanse regering het vroeër die hof se voorneme om Netanyahu, Gallant en Deif van Hamas verwelkom. “Dit is ’n belangrike stap na geregtigheid weens misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade in Palestina.

“Suid-Afrika herbevestig sy verbintenis tot internasionale reg en doen ’n beroep op alle partye om op te tree ooreenkomstig hul verpligtinge in die Statuut van Rome,” het Chrispin Phiri van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking Donderdag 21 November gesê. 

“Ons doen ’n beroep op die wêreldgemeenskap om die oppergesag van die reg te handhaaf en aanspreeklikheid vir menseregteskendings te verseker.”

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.