On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Oscar
Listen Live Streams

International

Joe Biden se kwytskelding van sy ‘probleemseun’ oorskadu Angola-besoek

───   08:57 Tue, 03 Dec 2024

Joe Biden se kwytskelding van sy ‘probleemseun’ oorskadu Angola-besoek | News Article
Pres. Joe Biden is verwelkom deur pres. João Lourenço. Foto: X

Die agenda van Amerika se pres. Joe Biden se eerste besoek aan Suider-Afrika word oorskadu deur sy verrassende kwytskelding van sy “probleemseun”, Hunter Biden.

Joe Biden het die volle en onvoorwaardelike kwytskelding van sy seun aan die einde van die Dankseggingsnaweek aangekondig – ’n tyd vir Amerikaners waar alles oor familie gaan. Daar is geen ander gevolgtrekking nie, lui sy verklaring, as dat sy seun polities geteiken is weens wie hy is.

Hunter het versuim om op ’n federale vuurwapenaansoek bekend te maak dat hy in 2018 aan kokaïen verslaaf was. Hy sou volgende week gevonnis geword het. Sy vonnisoplegging vir afsonderlike belastingoortredings sou die week daarna gevolg het.

Jill Biden, Hunter en sy vrou, Melissa Cohen, die Suid-Afrikaanse filmmaker. Sy het Hunter ontmoet in die dieptes van sy verslawing, hom bygestaan en dae later met hom getrou. Foto: X

Biden het Maandagaand (2/12) in Angola geland om ’n spoorwegprojek wat deur die VSA gesteun word, te bevorder en aandag te skenk aan die nalatenskap van slawerny.

Die reis is deel van Biden se belofte om Afrika suid van die Sahara te besoek en wil die Lobito-korridorprojek versterk wat die Demokratiese Republiek van die Kongo en Zambië met die Angolese hawe Lobito verbind. 

Die sowat 1 280 km lange spoorwegprojek, wat deels deur die VSA gefinansier word, word beskou as ’n teenvoeter vir China se invloed in Afrika. Die reis wil Amerikaanse teenwoordigheid in Afrika ’n hupstoot gee midde-in toenemende Chinese beleggings.

Amerikaanse amptenare glo die korridor sal private beleggings in Angola lok en die Weste beter toegang bied tot minerale wat nodig is vir elektriese voertuie en skoonenergie-tegnologie. Maar waarnemers is skepties oor Amerika se vermoë om mee te ding ná China se jare lange beleggings in Angola.

China het infrastruktuurprojekte landwyd gebou wat werk skep en lewensomstandighede verbeter. Daarteenoor was die VSA daarop toegespits om toestande vir private belegging te skep, wat ’n ruk kan duur voor dit Angolese bevoordeel. Sommige twyfel dat hierdie voordele ook sal verwesenlik.

Angola, die tweede grootste olieprodusent in Afrika suid van die Sahara, het hulp van ryk nasies gevra nadat sy burgeroorlog in 2002 geëindig het. Terwyl die VSA geweier het, het China ingetree, en Angolese onthou hierdie steun. Amerika se aansienlike ekonomiese belegging in Angola is beperk tot die olie-en-gasbedryf, wat daartoe gelei het dat kritici die ware fokus van die korridorprojek bevraagteken.

Biden se besoek is die eerste keer dat ’n Amerikaanse president na Angola reis sedert die land se onafhanklikheid van Portugal in 1975. Biden het beplan om in Oktober te besoek, maar het herskeduleer weens die orkaan Milton.

‘Afrikalande het baie vennote om van te kies’

Angola se pres. João Lourenço wil blykbaar vennootskappe buite China en Rusland diversifiseer. In 2022 het Angola ten gunste van ’n VN-resolusie gestem wat die inval in die Oekraïne veroordeel. Vir Lourenço is Biden se besoek ’n belangrike persoonlike en politieke mylpaal.

Ten spyte van Biden se pogings bly dit onseker of Amerikaanse beleggings in Afrika onder die Trump-administrasie sal voortgaan. Kenners waarsku dat Angola en ander Afrikalande baie vennote het om van te kies in ’n mededingende globale landskap.

Suid-Afrika bly ’strategies’

Ontleders sê Suid-Afrika bly die VSA se strategiese vennoot, ondanks spanning weens die veranderende globale politieke dinamika van multipolariteit.

Die VSA “beskou SA steeds as strategies, ondanks spanning”, sê rr. Kingsley Makhubela, direkteur van RiskRecon.

“Biden se besoek aan Angola is hoofsaaklik toegespits op die Lobito-spoorverbindingskorridor wat die Koperstreek in Zambië en die strategiese, mineraalryke Demokratiese Republiek van die Kongo met die hawe Lobito in Angola sal verbind,” het Makhubela gesê.

OFM Nuus mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.