On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Mynbou by Palmietfontein ‘groot gevaar vir landbou’

───   15:12 Mon, 12 Jun 2023

Mynbou by Palmietfontein ‘groot gevaar vir landbou’ | News Article
Die VF Plus is bekommerd oor die uitwerking van mynbou op die landbou in Palmietfontein se omgewing. Foto: Citizen

Die VF Plus is sterk gekant teen Kesoram Investments se voorgenome myn by Palmietfontein tussen Potchefstroom en Ventersdorp.

Die party het Vrydagaand (9/6) saam met boere, sakelui en ander lede van die plattelandse gemeenskap in Noordwes op ’n gemeenskapsvergadering op Ventersdorp sterk standpunt ingeneem oor die aangeleentheid. Sowat 50 belanghebbendes het dit bygewoon.

“Die vergadering is gehou nadat die VF Plus in April as ’n party van belang in die kwessie geregistreer het en aangedring het op ’n behoorlik deursigtige openbare deelname proses,” sê Marlene Steyn-du Doit, VF Plus-raadslid in die JB Marks-munisipaliteit, waaronder die gebied val.

VF Plus-raadslid Marlene Steyn-du Toit sê die landbousektor vorm die ruggraat van JB Marks se ekonomie.

Die party het mense van Palmietfontein sedertdien bygestaan om ook as partye van belang te registreer. Thevha Sustainable Services het Kesoram op Vrydagaand se vergadering as omgewingskonsultant verteenwoordig.

“In antwoord op indringende en wydlopende vrae deur die VF Plus en ander teenwoordiges het dit geblyk dat daar bloot ’n oppervlakkige omgewingsimpakstudie gedoen is in Kesoram se poging om prospektering-en mynregte in Palmietfontein te verkry,” sê Steyn-du Toit.

Belanghebbendes het op die vergadering talle gevare uitgewys van verskeie vorme van besoedeling wat mynboubedrywighede in die gebied vir die landbou- en verwante bedrywe sal inhou. “Die landbousektor in Potchefstroom en Ventersdorp vorm die ruggraat van die plaaslike ekonomie en is verreweg die grootste werkskepper,” waarsku Steyn-du Toit.

‘Enige mynbedrywighede in hierdie ekologies-sensitiewe gebied sal rampspoedige gevolge inhou’

Gevare sluit in die besoedeling en vernietiging van skaars ondergrondse waterbronne, ’n vleiland asook lugbesoedeling. “Kesoram se verteenwoordigers kon byvoorbeeld geen waarborge verskaf dat mynbedrywighede en prospekteringsgate nie die wande van ondergrondse waterkompartemente in die gebied sal versteur of beskadig nie.”

Sy sê sulke skade sal lei tot die vernietiging van hierdie waterbronne omdat die water bloot sal wegsyfer in die aardkors. “Thevha het hierop toegegee dat sewe belangrike kwessies eers behoorlik ter plaatse nagevors moet word en die navorsingsuitslae hiervan aan alle betrokkenes beskikbaar gestel moet word vir kommentaar.”

Dit sluit onder meer ’n omgewingsimpak-, erfenis- en grondwaterstudie, asook ’n impakbeoordelingsverslag en ’n besoedelingsverslag in.

“Uit gesprekke en konsultasies met verskeie kundiges wat reeds (vertroud) is met die Palmietfontein-gebied, is dit duidelik dat enige mynbedrywighede in hierdie ekologies-sensitiewe gebied rampspoedige gevolge vir die omgewing, plaaslike boere, sakelui en ander inwoners sal inhou,” meen Steyn-du Toit.

Die VF Plus in JB Marks onderneem om die situasie te monitor en te “bly stry teen enige onoordeelkundige mynbou-ontwikkeling in die munisipale gebied wat die belange van inwoners bedreig”.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.