On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Suid-Afrika se eie hond – die Boerboel

───   08:00 Wed, 05 Apr 2023

Suid-Afrika se eie hond – die Boerboel | News Article
FOTO: South African Boerboel Breeders Society (SABBS).

Die Boerboel is 'n verklaarde Suid-Afrikaanse landras wat beskryf word as betroubaar, gehoorsaam en intelligent.

OFM-nuus het met die South African Boerboel Breeders Society (SABBS) se Letitia Kruger gesels om meer oor dié hond te leer.

Wat is sommige van die sleutelkenmerke van Boerboelhonde?

'n Boerboel is hanteerbaar, betroubaar, gehoorsaam en intelligent met 'n sterk beskermingsdrang. 'n Opreg-geteelde Boerboel is selfversekerd en vreesloos.

LEES OOK: Federasie gekant teen versoeke om Amerikaanse veghonde te verbied

Tans kan jy Boerboele vind in Kanada, Amerika, Europa, China, Australië, Indië en Afrika. 

In 2022 was die SABBS se totale ledetal wêreldwyd 948, waarvan 393 Suid-Afrikaanse lede verteenwoordig.

Hoe dra dié hond se oorsprong as 'n landras van Suid-Afrika by tot sy unieke eienskappe en temperament?

Volgens die Diereverbeteringswet 1998 is 'n Boerboel slegs 'n Boerboel as hy geregistreer is by 'n geregistreerde registerende owerheid, indien nie, is dit net nog 'n GROOT hond. 

'n Landras-hond beteken 'n inheemse ras, met ander woorde eie aan Suid-Afrika. SABBS is ook geaffilieer met SA Stamboek. Met behulp van SA Stamboek word akkurate rekords gehou van keurings en ouerskap sowel as aanteelwaardes.

Jou geregistreerde hond se herkoms kan tot met vyf generasies op sy sertifikaat aangedui word. Op Logix behoort jy verder in jou hond se geslagsgeskiedenis te kan navors. 

Die reun en teef se gesondheid is beskikbaar, lewensduur van die hond en die punt wat die hond verkry het tydens keuring. 

Die huidige keuringsisteem is geïmplementeer in Januarie 2017 en nerens ter wêreld is so gevorderde lineêre keuringsisteem vir honde nie. 

Temperamente word ook gedurende die proses beoordeel. Beide ouers ondergaan DNA-toetse en alle geregistreerde Boerboel-honde moet mikroskyfies kry.

Dié unieke honderas met hulle groot liggame en klein hartjies, het 'n plek in enige huishouding en familie. Die beskermende karaktereienskap van die ras is ooglopend, sowel as hulle indrukwekkende houding en uitstekende temperament. 

Die huidge wanindruk van die Boerboel by die publiek gee hom 'n slegte reputasie en dit is glad nie wat 'n opregte, geregistreerde Boerboel is nie.

Na jou mening, wat is sommige van die voordele om 'n Boerboel as 'n troeteldier of werkhond aan te hou?

Ek sou ook sê voordele van 'n goed geleerde troeteldier is sy lojaliteit en die feit dat hulle jou familie teen enige gevaar sal beskerm.

As werkshonde is hulle gefokus en gedrewe. Hulle leer vinnig en alhoewel hulle nie so vlugvoetig soos ander werkshonde is nie, het hulle verbasende uithouvermoë en dryf om hulle eienaars gelukkig te maak.

Wat is sommige van die uitdagings of potensiële nadele en hoe kan potensiële eienaars voorberei vir hierdie uitdagings?

Om 'n Boerboel te besit is nie 'n goedkoop oefening nie, die honde weeg tussen 60kg tot 90kg, wat beteken dat veeartskostes ook baie meer as kleiner rashonde is. Hondekos is ook aansienlik meer as ander honde.

Boerboele verg 'n eienaar met genoegsame ondervinding met 'n groot, dominante ras.

Hulle lewensduur is enigiets tussen 9 tot 12 jaar.

Kan jy die ideale leefomstandighede vir 'n Boerboel beskryf?

Boerboelhonde het 'n beskutte plek nodig om te slaap, nie in die reën en wind en ongure elemente nie. Hulle benodig voedsame kos wat ook verskil vanaf babahondjie tot senior hond. 

'n Volgroeide hond benodig daaglikse oefening, draf op die strand of stap om die blok. Spasie is nie so belangrik indien die hond elke dag kan loop in ’n park of om ’n blok nie.

Sosialisering van die groot honde is van kardinale belang. Hulle moet blootgestel word aan ander honde, kinders, verskillende loop-oppervlaktes, agterop die voertuig ry, en harde musiek. 

Neem hulle gereeld na die veearts as hulle klein is dat dit vir hulle 'n plesierige uitstappie is en bly.

Dissipline, gehoorsaamheid en roetine - nes 'n kind voel 'n hond geborge as daar 'n roetine in plek is.

Hoe reageer Boerboelhonde gewoonlik met ander troeteldiere of diere soos katte of lewendehawe?

Net soos met kinders moet 'n mens streng reëls toepas terwyl jy die honde groot maak. My honde woon saam met 'n 2,5kg kat en hulle respekteer haar posisie in die huis.

Boerboele kan saam met enige ander diere lewe indien hulle saam met hulle groot geword het met reëls en dissipline. Twee reun[honde] doen bitter selde goed saam, so ook is die uitplaas van twee honde van dieselfde werpsel nie 'n goeie idee nie.

Watter soort opleiding is nodig vir Boerboele om te verseker dat hulle goed gemanierd en goed aangepas is in 'n huislike of werksomgewing?

'n Boerboel kan na 'n opleidingskool geneem word vir opleiding en sosialisasie, maar Boerboel-eienaars met ondervinding sal weet hoe om die honde te leer sodat hulle gehoorsaam is.

Jou groot honde aanvaar maklik 'n baba hondjie, maar 'n groot reun sal nie oor die weg kom met 'n ander groot vreemde reun nie. Daar is wel uitsonderings.

Wat is sommige algemene wanopvattings oor Boerboelhonde?

Alle groot honde is nie Boerboele nie, alle honde byt ook nie mense nie. 'n Eienaar moet besef dat 'n Boerboel net kan knor as hy nie saamstem of gemaklik voel nie, en as jy as eienaar nie jou hond goed ken nie, sal die volgende aksie 'n byt wees. 

Jy as die eienaar moet leiding neem – as jou klein hondjie bang is, beskerm hom. As jou klein hondjie skrik, bly kalm. As jou hond nie luister, moet jy hom ferm en kalm uit die negatiewe situasie weglei. Honde-eienaars bly aanspreeklik vir die opleiding van die hond.

Dit is ook baie belangrik dat kinders mooi geleer word om so 'n groot hond se private ruimte te respekteer. Die gesegde "moenie slapende honde wakker maak nie", is werklik waar as dit kom by 'n Boerboel.

Hoe kan potensiële eienaars verseker dat hulle op 'n verantwoordelike en etiese manier 'n Boerboel bekom?

Potensiele eienaars kan 'n e pos na ons kantoor stuur, office@sabbs.co.za en by die sekretaresse navrae doen oor opbetaalde telers in die area, andersins kan ons gekontak word deur middel van navrae op die webwerf by www.sabbss.co.za.

Indien jy 'n babahondjie wil aankoop, onthou dat hierdie bababoerboeletjie en sy behoeftes geheel en al van u afhanklik is en dat u baie tyd, geduld, aandag en liefde aan hom sal moet spandeer. 

Bo en behalwe dit, is daar talle inspuitings gedurende die eerste paar maande. Die aanleer van toiletmaniere en gehoorsaamheid, die vaslê van aanvaarbare gedragspatrone en 'n spesiale dieet.

Boerboele beland baie keer by reddingsorganisasies omdat eienaars net eenvoudig nie genoeg kennis dra van die ras nie, en nes kinders, gaan hulle ook deur stadiums en 'n mens moet weet hoe om dit te hanteer.  

Belangrike gebeurtenisse op die 2023 kalendar:

Gaan op SABBS se landingsblad en daar sal jy 'n opgedateerde dagboek vind links bo. Die genootskap bied verskeie keurings- en skoudae dwarsoor die land aan. Twee belangrike datums vir die OFM-luisteraars is die bywoning van Graan SA se NAMPO Oesdag in Bothaville 16 tot 19 Mei 2023 en die Nasionale Skou en Ekspo by die Afridome Parys, 6 en 7 Oktober 2023. By hierdie groot skou sal 'n groot kampioenreun of teef as die Hond van die Jaar aangewys word en dit is oop vir die publiek.

"Twee van ons telers is vanjaar benoem vir die Standard Bank SA Stamboek Nasionale Stoetkudde van die jaar (Ander spesie). Die benoemings word volgens ‘n streng puntestelsel uit Logix gemaak. Hier identifiseer Stamboek voortreflike telers wat data volledig aanteken en wat die inligting op die regte wyse aanwend vir bestuur en seleksiedoeleindes. Logix is 'n dataprogram.

Die twee telers wat benoem is vir 2023 is:

  • La Boela Boerboele in Uitenhage, eienaar Riaan Ludeke.
  • Elevation Boerboel Stoet in Oudsthoorn , eienaar Adré Steenkamp

“Die wenner sal aangekondig word gedurende ’n Elite Gala-prysuitdelingsdinee op 1 Mei in Bloemfontein.

“Indien enigeen nog iets wil weet, is julle welkom om my te kontak by 082-874-6212. 

“Baie dankie vir die voorreg om ons eie land se hond - die Boerboel - aan julle voor te stel.”

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.