Agriculture
Voorsorg vir 2023-brandseisoen noodsaaklik─── ELSABÉ RICHARD 07:08 Wed, 22 Mar 2023
Die Vrystaatse Sambreel-brandbeskermingsvereniging waarsku dat vanjaar se brandseisoen moontlik een van die ernstigste brandseisoene tot nog toe kan wees.
Die vereniging se Johan Breytenbach sê verskeie aspekte word in ag geneem by die maak van só 'n voorspelling. Een gevaar is dat die goeie reën gelei het tot oormatige brandbare materiaal.
LEES OOK: Meer as 60 000 hektaar oor naweek verwoes - Vrystaat Landbou
2022-brandseisoen
Die 2022-brandseisoen was net vyf maande lank, wat volgens Breytenbach een van die kortstes in onlangse geskiedenis was. Dit het reeds teen die einde van September opgehou.
Gedurende hierdie periode is meer as 11 000 brande geregistreer, met net meer as 332 000 hektaar veld wat gebrand het. Meer as 60% van hierdie veldbrande het in die laaste twee maande van die brandseisoen plaasgevind.
Twee mense is ook dood in hierdie brande.
2023-brandseisoen
“Dit lyk of hierdie jaar se brandseisoen moontlik van die ergste brandseisoene kan wees wat ons in ‘n baie lang tyd gehad het,” waarsku Breytenbach.
Daar is ‘n verskeie redes hiervoor:
- Oormaat brandbare materiaal in die veld weens goeie reënval;
- Vanjaar se brandseisoen gaan moontlik ook langer wees alhoewel dit stadig gaan begin, volgens die data van die Suid-Afrikaanse Weerdiens; en
- Wintertemperature blyk of dit hoër gaan wees as normaal.
Breytenbach moedig alle grondeienaars aan om vroegtydig voorsorgmaatreëls te tref vóór die brandseisoen begin. Dit sluit in brandbane, die sny van gras rondom huise en store sowel as om toerusting in plek te hê.
ALSO READ: El Niño on the cards for South Africa
“Die La Niña-verskynsel is besig om te kwyn en ons kyk met ‘n groot hoeveelheid van sekerheid na ‘n El Niño wat ontwikkel. Ons gaan dus heel waarskynlik ’n droër vroeër somer tegemoet en dit gaan warm wees. Dit beteken ons verwag ‘n langer brandseisoen en dat dit nie so vroeg gaan klaarmaak soos laasjaar of die jaar voor dit nie.”
LEES OOK: Vereistes vir grondeienaars ten opsigte van veldbrande
Grondeienaars se verantwoordelikheid
Eric Stoch van die Noordwes Sambreel-brandbeskermingsvereniging, het voorheen met OFM-nuus gedeel dat daar vereistes is wat grondeienaars aan moet voldoen wanneer dit kom by die bestryding en voorkoming van veldbrande.
Volgens die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande Nr. 101 van 1998 is dit ‘n vereiste vir alle staatinstellings om ‘n lid van ‘n brandbeskermingsvereniging te wees.
Stoch deel verder dat in terme van die Nasionale Grondwet het die res van die landsburgers die reg om te besluit om deel van ‘n brandbeskermingsvereniging te wees of nie. Maar, hy sê wat mense nie besef nie is dat, al word hulle nie ‘n lid van die bogenoemde vereniging nie, is die wet van toepassing op ‘n grondeienaar om seker te maak dat die volgende in plek is:
“Jy moet ‘n brandbaan of ‘n voorbrand hê. Dit beteken ‘n stuk grond op die grens van jou eiendom wat nie brandbare materiaal het nie. Met ander woorde, jy kan [die area] skraap, jy kan gif spuit of jy kan [die area] brand,” verduidelik Stoch.
Hy waarsku egter dat om gras korter te sny verwyder nie die brandbare materiaal soos in die geval van ‘n voorbrand nie.
“Jy moet die nodige toerusting hê om ‘n brand te kan bestry en te kan verhoed dat die brand oorgaan na jou buurman. Jy moet ook kan verhoed dat ‘n vuur wat van jou buurman kom, nie oor jou grond kan gaan na die volgende buurman in die lyn nie.”