On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Nolwethu
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Agriculture

Vleisliefhebbers wêreldwyd ontwikkel smaak vir Suid-Afrikaanse beesvleis

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Tue, 15 Nov 2022

Vleisliefhebbers wêreldwyd ontwikkel smaak vir Suid-Afrikaanse beesvleis  | News Article

Vleisliefhebbers wêreldwyd het 'n smaak vir Suid-Afrikaanse beesvleis ontwikkel. Só sê die bedryfshoof van die Beefmaster-groep, Gert Blignaut, nadat hulle die Internasionale Halaal-ekspo in Saoedi-Arabië bygewoon het.

Dié ekspo volg nadat Suid-Afrika verlede maand 'n ooreenkoms met Saoedi-Arabië onderteken het ingevolge waarvan daardie land tussen 500 en 1 000 ton beesvleis per jaar sal bestel.

LEES OOK: Saoedi-Arabië-uitvoerooreenkoms ontsluit geleenthede vir beesvleisprodusente

“Sedert die uitvoer van ons produkte in 2008, het ons gesien dat elke mark wat binnegedring is, Suid-Afrikaanse beesvleis op hul rakke gevoeg het vanweë ons kwaliteit- en diensversekering, asook dat ons beesvleis mededingend geprys is,” sê Blignaut.

Hy voeg by dat Suid-Afrika een van die vyf grootste produsente van Halaal-gesertifiseerde vleis wêreldwyd is, en dat handelskoue soos hierdie van kritieke belang is vir de Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf.

OFM-nuus het voorheen berig dat Suid-Afrikaanse beesvleisprodusente nou geweldig baat sal vind by die ooreenkoms.

Die Beefmaster-groep se Louw van Reenen het ook met OFM-nuus gedeel dat die transaksie uiters positief is vir die Suid-Afrikaanse beesvleissektor, veral gegewe die talle uitdagings wat die bedryf vanjaar in die gesig gestaar het ná uitbrekings van bek-en-klouseer, hoë insetkostes, asook teen 'n onsekere ekonomiese agtergrond.

“Ons is baie opgewonde oor die ooreenkoms [tussen Suid-Afrika en Saoedi-Arabië], en dit kon nie op 'n beter tyd gekom het nie. Behalwe om nuwe handel te ontsluit, sal dit ons ook help om werksekerheid van die sektor oor die volgende jaar te handhaaf,” sê Van Reenen verder.

Dit is onderteken toe die Minister van Landbou, Thoko Didiza, President Cyril Ramaphosa in Oktober 2022 na Saoedi-Arabië vergesel het as deel van ‘n beleggingsveldtog. 

Tesame met hierdie ooreenkoms sal meer Suid-Afrikaners ook in diens geneem word, wat nie net sal bydra tot die land se ekonomie nie, maar ook die land se indiensnemingsyfers.

OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.