Agriculture
Hoë dieselprys ‘n gevaar vir voedselsekerheid─── 14:02 Mon, 24 Oct 2022
Die stygende dieselprys word ‘n gevaar vir voedselsekerheid en plaas boere onder geweldige druk.
Sien onderstaande PODCAST
Met die soveelste groot dieselprysverhoging om die draai, raak voedselsekerheid problematies weens die uitwerking daarvan op hoë insetkostes en daarmee saam hoë voedselpryse.
Ná die mees onlangse verhoging in die dieselprys betaal verbruikers reeds minstens R8 meer as wat die prys verlede jaar dié tyd was, en dit is nog voor die verhoging van meer as R1 wat verwag word in November.
Die nuwe plantseisoen het onlangs aangebreek en die reeds uitermatige hoë insetkostes waarmee boere te doen het, is nou nog hoër.
“Selfs met die 10c en 15c per liter verhogings. In perspektief gesien, die dieselprys was reeds ’n reuse-uitdaging vir boere,” sê Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder.
Boere se insetkostes sluit onder meer saad, kunsmis, kalk, brandstof, onkruid- en plaagdoder, versekering, prysverskansing, elektrisiteit en instandhoudingskostes in.
Die verhoging van die brandstofprys moet in konteks geplaas word.
“Dit het direk ’n invloed op verskeie faktore en so verhoog die koste van byna elke item in die ketting van noodsaaklike oorlewingshulpmiddels.
"Die koste verhoog ook dan vir die landbouer. Gesien in die lig van die huidige pryse wat die boer op die mark kry, is dit ’n uiters ernstige saak. Daar is boere is wat produkte tans weggooi aangesien dit ekonomies nie bemarkbaar is nie weens die swak pryse. Dit word natuurlik veroorsaak deur die swak kopersmark wat finansieel sy geld moet gebruik vir slegs noodsaaklikhede, aangesien daar nie finansiële vermoëns is om elke dag ’n gesonde bord kos te kan bekostig nie,” verduidelik Van Zyl.
"Hierdie rimpeleffek gaan nie nou duidelik sigbaar wees nie, maar daar moet in ag geneem word dat indien die boer nie wins maak nie, hy met die volgende aanplantings nie dieselfde as die huidige jaar kan onderneem nie, weens ’n tekort in finansies. Die banke is huiwerig om lenings te voorsien aangesien die onteieningsaksies onsekerheid veroorsaak.
“Dit beteken in werklikheid dat daar die vooruitsig is dat daar in toekomstige aanplantings 'n ernstige afname sal wees wat ’n voedseltekort gaan veroorsaak,” sluit hy af.
Stygende dieselpryse affekteer meer as net voedselsekerheid
Die dieselpryse beïnvloed nie net voedselsekerheid nie maar ook boere, die plantseisoen en hul onmiddellike insetkostes.
“Jy moet vir jou vertakking waarmee jy boer, seker maak dat daai produksieproses winsgewend is. Ek dink ons boere moet baie seker maak dat hulle hulle kostes reg bereken,” verduidelik Van Zyl.
Hy verduidelik ook dat boere elke kommoditeit wat hulle mee boer, moet bereken en seker maak dat die insetkostes vir elkeen uitwerk.
“Ons moet weet, die hele landbouwaardekettingproses gaan dan oor primêre rolspelers maar die res is net so belangrik, ons kan hulle nie eenkant toe skuif nie.”
Hy sê die primêre wegtrekpunt is daar is 'n verbruiker wat jou produk wil hê want as daar nie ‘n mark was nie, vir wie sou ons produkte gelewer het. “Dis nasionaal vir ons 'n strategiese belangrikheid maar ook selfs internasionaal want daardeur verdien ons land ook baie in buitelandse valuta."
Hy sluit af deur te sê “Suid-Afrikaanse boere verdien regtig ‘n groot handeklap van almal van ons as verbruikers en ek dink dit is vir ons belangrik om te besef landbou moet leef sodat ons land kan leef.”