Agriculture
Produsente moet jaarlikse lone by Vergoedingsfonds verklaar─── 08:53 Thu, 27 Mar 2025

Alle besighede, insluitend boere met ten minste een werker, moet hul jaarlikse lone vir 2024 by die Vergoedingsfonds verklaar.
Die departement van indiensneming en arbeid het in Februarie aangekondig alle besighede, insluitend produsente, moet hul jaarlikse lone vir 2024 by die Vergoedingsfonds verklaar. Hierdie vereiste is veral belangrik vir boere wat ten minste een werker in diens het en jaarliks ’n versekering aan die fonds moet betaal.
Stephan Pietersen van Work Accident Support verduidelik die kennisgewing is op alle geregistreerde boerderye van toepassing en dat lone tussen 1 April en 30 Junie 2025 verklaar moet word. Dit dek die finansiële jaar vanaf 1 Maart 2024 tot 28 Februarie 2025. Die maksimum salaris wat verklaar moet word, is R597 323, selfs al verdien ’n werker of direkteur meer as hierdie bedrag.
Indien ’n produsent versuim om lone in hierdie tydperk te verklaar, word ’n boete van 10% op die finale aanslag vir 2024 gehef. Verder moet produsente wat ophou boer – as gevolg van sterfte of die verkoop van hul plaas – aansoek doen vir deregistrasie en hul lone met die hand verklaar, aangesien dit nie aanlyn gedoen kan word nie.
Teen verlede jaar was 941 000 besighede by die Vergoedingsfonds geregistreer, maar slegs 347 000 het hul lone verklaar.
Tariewe vir verskillende boerderye
- Veeboerdery: 2.51 in 2024, verhoog na 2.65 in 2025
- Grondbewerking en bosbou: 2.51 in 2024, verhoog na 2.65 in 2025
- Gemengde boerdery: 1.86 in 2024, verlaag na 1.65 in 2025
Stappe om lonedeklarasie op datum te bring
- Verkry die laaste rekening by die Vergoedingsfonds
- Verklaar agterstallige lone vanaf 1 April
- Tref indien nodig ’n afbetalingsreëling
- Verseker dat salarisstate op datum is
- Voltooi die voorgeskrewe vorm met salarisse
- Verklaar lone aanlyn vanaf 1 April
- Betaal die rekening binne 30 dae
- Verkry ’n brief van goeie stand van die departement
Pietersen beklemtoon dat produsente rekord moet hou van al hul dokumente, veral vir moontlike inspeksies. Dit is ook ’n goeie geleentheid om te bevestig dat boerderye korrek geregistreer is, en vir produsente met pakhuise om te oorweeg om dit as aparte entiteite te registreer vir ’n moontlike laer tarief.
OFM Agri cg