Agriculture
Kommandowurm-uitbreking raak verskeie distrikte in die Vrystaat─── 09:16 Fri, 28 Mar 2025

Die kommandowurmuitbreking het verder in die Vrystaat versprei.
Die provinsiale departement van landbou en landelike ontwikkeling het bevestig ongeveer 70 gevalle van kommandowurmuitbrekings is in die Xhariep-distrik aangemeld, insluitend Petrusburg, Jacobsdal, Koffiefontein en Luckhoff. In die Lejweleputswa-distrik is 13 gevalle met 11 boere in Boshof wat geraak word.
Daar is ook verslae van uitbrekings in Dealesville, Hertzogville en Bothaville, terwyl vier boere by Soutpan geraak is.
Opleidingsessies is op 26 Maart in Petrusburg en Jacobsdal gehou, waar boere ingelig is oor die teorie, verspreiding en beheer van die kommandowurm. Die departement het chemikalieë (Sumi-Alfa) en spuite aan boere verskaf om die uitbreking te bekamp. Verdere voorrade is reeds ontvang en sal versprei word na die Lejweleputswa- en Mangaungdistrikte.
Kommandowurms in ’n veld. Foto: LNR
“Amptenare van die nasionale departement van landbou monitor en evalueer deurlopend die situasie, terwyl die provinsiale rampbestuurspan saamwerk om die uitbreking hok te slaan,” vertel woordvoerder Moliehi Moeng.
Die departement waarsku dat kommandowurms voedselvoorsiening in gevaar kan stel en dat vee nie in behandelde gebiede moet wei nie.
Boere word versoek om waaksaam te wees en enige uitbrekings dadelik aan die relevante amptenare te rapporteer.
Kontak vir verdere inligting:
- Xhariep-distrik: Shadrack Cezula – 081 038 6504
- Lejweleputswa-distrik: Thabiso Letsoara – 066 220 1167
- Mangaung Metro: George Madiba – 064 063 6194