On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Sonneblompryse steeds hoog

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Thu, 02 Jun 2022

Sonneblompryse steeds hoog  | News Article

Die vraag na alternatiewe olie soos kanola- en palmolie het intussen toegeneem weens die hoë sonneblomoliepryse.

Daarmee saam voeg Heleen Viljoen, ’n landbou-ekonoom van Graan SA, by dat die oorlog in die Oekraïne ’n onderliggende rol in die pryse vir sonneblom speel. 

Sien onderstaande PODCAST

Viljoen deel dat daar wel oor die afgelope maand ’n afwaartse tendens in pryse vir sonneblom was, maar dat sonneblompryse steeds histories hoog is. Sy verduidelik dat die oorlog ’n groot onderliggende rol speel.

Sy deel verder dat die oliesademark ’n interesante mark is omdat daar baie interafhanklike faktore is wat pryse beïnvloed.

“Toe die Russe die Oekraïne inval, het dit die Oekraïne se vermoë om sonneblomolie uit te voer baie belemmer. Wat dit aan die wêreldvraag gedoen het is dit het ’n groot aanbod uitgehaal. So, die wêreldvraag het steeds hoog gebly, maar die aanbod vir sonneblomolie was min.”

LEES OOK: Rusland-Oekraïne-konflik het landboukommoditeite só geraak

Intussen het die vraag na alternatiewe olie toegeneem. Goedkoper alternatiewe vir sonneblomolie sluit in palmolie en kanola-olie.

Palmoliepryse die hoogte ingeskiet. Indonesië, wat een van die grootste uitvoerders van palmolie is, het toe die wêreld kyk na palmolie as ’n alternatief vir sonneblomolie, ’n verbod op die land se palmolie-uitvoere geplaas om sy plaaslike pryse te probeer beheer. 

Viljoen het voorheen met OFM-nuus gedeel dat Suid-Afrika afhanklik is van sonneblomolie-invoer, en met die oorlog wat tans aan die gang is, word invoer negatief beïnvloed. Die Swartsee – vanwaar Suid-Afrika meeste van dié produkte invoer – se hawens funksioneer nie op volle kapasiteit nie. Dit is ‘n faktor wat kan bydra tot plaaslike sonneblomoliepryse wat die hoogte inskiet.

LEES OOK: Sonneblomoeste lyk goed ten spyte van baie reën

Volgens Viljoen is die verhoging in sonneblomoliepryse nie as gevolg van die verhoging in landboukommoditeitpryse nie - dit is as gevolg van waardeketting-ontwrigtings.

Daar ontstaan ook ‘n tendens in die mark dat die winsmarges van ‘n boer ook nou sal opgaan omdat die sonneblomprys opgaan, maar dit is egter nie waar nie, sê Viljoen.

Die Swartsee

Die situasie in die Swartsee is onveranderd. Die Rusland- Oekraïne-konflik duur nou al vir drie maande voort, wat Suid-Afrika se afhanklikheid van ander lande uitgewys het.

Die Oekraïne is een van die wêreld se grootste sonneblomuitvoerders. Dit het verlede jaar 6,6 miljoen ton sonneblom geproduseer, en Viljoen sê daar word verwag dat die land vanjaar 9,2 miljoen ton sonneblom sal produseer.

“As die Oekraïne nie sonneblomme kan uitvoer nie, dan kan dit steeds pryse ondersteun. Maar as die Oekraïne ook nie hulle sonneblomme kan oes nie, kan dit ook die pryse ondersteun.

“Die nuutste nuus waarna ons gekyk het is Rusland wat die Odesa poort, wat die grootste uitvoer poort in die Oekraïne is, streng dop hou... soos wat ek verstaan wag die oorlogskepe – niemand kan enigiets uit die poort uitvoer nie.”

Dit, sê Viljoen, skep kommer dat die Oekraïne nie hul sonneblomme later vanjaar sal kan uitvoer nie.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.