On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Katoenpryse, vooruitsigte en uitdagings

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 01 Jun 2022

Katoenpryse, vooruitsigte en uitdagings | News Article

Katoenpryse lyk tans goed en vooruitsigte vir die bedryf lyk ook goed.

Dit is volgens Hennie Bruwer, die hoof uitvoerende beampte van Katoen SA

Hy sê verwagtinge is dat katoenpryse in die toekoms hoër kan neig.

Sien onderstaande PODCAST

Die jongste oesskattings vir katoen wys dat in terme van volume behoort Suid-Afrika min of meer dieselfde oes as die vorige produksieseisoen te produseer. Bruwer sê hierdie skatting toon dat tussen 70 000 en 80 000 balle katoen geoes gaan word gedurende hierdie seisoen.

“Met die goeie reën wat ons [gedurende] en voor die seisoen gekry het, het ons boere, veral ons droëland boere, uitstekend gedoen in terme van opbrengste. So, ons verwag dat die oesgrootte min of meer dieselfde as verlede jaar gaan wees.”

Bruwer deel dat boere rapporteer dat hulle oor die algemeen tevrede is met hulle opbrengste en die kwaliteit van daardie opbrengste.

Uitdagings

Net soos ander bedrywe het katoenprodusente ook uitdagings ervaar. Van hierdie uitdagings sluit in versuiptoestande, hael en swaar reën wat hektare in sekere katoenproduserende gebiede verwoes het.

Katoen word in meeste van die provinsies in Suid-Afrika geproduseer – behalwe in die Wes- en Oos-Kaap. Die provinsie wat tradisioneel die meeste katoen produseer is Limpopo. Bruwer verduidelik dat toestande gunstig is vir die groei van katoen in Limpopo.

Die provinsies wat die minste katoen geproduseer het sluit in die Noordwes sowel as die Vrystaat. Hierdie provinsies is relatief nuut in katoenproduksie, sê Bruwer. Die groeitoestande soos die temprature en grondformasies verskil van ander tradisionele produksiegebiede. 

Bruwer voeg by dat hulle in die proses is om te kyk na nuwe plantgenetika voordat die genoemde gebiede ten volle uitgebrei kan word om dieselfde produksie as die meer tradisionele gebiede te lewer.

Katoenpryse

“As ons kyk na die internasionale katoenpryse is dit die hoogste die afgelope 10 tot 11 jaar. Die Suid-Afrikaanse prys word van die internasionale prys afgelei, wat beteken met die afgelope jaar se wisselkoersbewegings en die hoër dollarprys, het ons natuurlik rekord plaaslike pryse aangeteken.

“So, pryse lyk baie, baie goed. Die verwagting is dat pryse ook nog vir die komende seisoen op hoë vlakke sal bly.”

Vooruitsigte

Volgens Bruwer lyk vooruitsigte vir die katoenbedryf goed. Hy sê verwagtinge is dat pryse hoër kan neig. Dit, teen die agtergrond van die geopolitieke gebeure in Europa en die onsekerheid rondom die situasie daar, wat verhoed dat produkte betyds regoor die wêreld gelewer word– wat ‘n impak op prysbewegings het.

Daarmee saam sê Bruwer kan hierdie gebeure ook ‘n nadelige uitwerking op insetkostes het. Insetkostes het veral oor die afgelope jaar en ‘n half toegeneem.

Intussen het OFM-nuus vroeër berig dat die vraag na plaaslike katoen aan die toeneem is namate plaaslike kleinhandelaars in die tekstielbedryf regmaak om aan die regering se landbou- en landbou-verwerkingsmeesterplan te voldoen.

Die plan het onlangs begin vorm aanneem terwyl die katoenbedryf se teiken op 65% plaaslike katoen vasgemaak is. Bruwer het egter bygevoeg dat plaaslike en internasionale volumes tog 'n kopseer was, omdat boere haelskade ervaar het.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.