Agriculture
Bekamp só stres by plante─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Mon, 04 Apr 2022
Daar is verskeie omgewingsfaktore wat tot stres by plante kan bydra.
Sien onderstaande PODCAST
Maar volgens Eric Louw van NWK se Landboubestuursdienste, leef plante altyd onder stres. Dit kan die plant óf positief óf negatief raak. Louw verduidelik dat weens kompetisie met ander plante vir oorlewing, leef die plante gewoonlik by die limiet van hulle vermoëens wat dan tot stres lei.
LEES OOK: Navorser praat oor plantsiektes in groentegewasse
Plante is ook geneig om elasties of buigsaam op stres te reageer. Dit beteken dat as die stres verlig word ,die plant na ‘n vroeër stelsel terugkeer óf dat die plant as ‘n resultaat van die stres wat voorgekom het, sal vervorm of veranderd sal bly.
Voorbeelde van omgewingsfaktore wat tot stres by plante kan bydra, sluit in droogte, hitte koue en ryp.
Hoe om bogenoemde omgewingsfaktore te beheer
“Ons as landbouers kan ongelukig nie die klimaat beheer nie. Wat ons egter wel kan doen, is ons kan die effek van ongunstige klimaatstoestande verminder deur die regte bestuurspraktyke op die plaas toe te pas,” verduidelik Louw.
Hierdie praktyke sluit onder meer in:
- ‘n Keuse van die regte plantdatums vir die verskillende gewasse vir die verskillende gebiede;
- Goeie vogbewaringspraktyke op die lande;
- Opheffing van verdigtings in die lande;
- Chemiese regstellings van die gronde se voedingstatus;
- Die regte hoeveelheid bemesting moet toegedien word; en
- Om doeltreffende onkruidbeheer in die lande toe te pas.
Volgens Louw moet produsente hul landerye op ‘n gereelde basis besoek sodat enige probleme vroegtydig opgespoor en reggestel kan word.
LEES OOK: Rywydtes, plantdigtheid en plantdatums van sojabone
Nagevolge van stres by plante
Louw deel dat plante wat aan ‘n kortstondige vorm van stres blootgestel is, meestal volkome sal herstel as gevolg van ‘n vinnige aanpassing in metaboliese en fisiologiese prosesse in die plant. In hierdie gevalle kan 'n mens nie visuele skade waarneem nie en daar sal ook geen noemenswardige oesverliese waarneembaar wees nie.
Plante wat egter aan langdurige stres blootgestel word, soos hoë temperature en droogtes, sal duidelike visuele stresskade toon, soos blare wat beskadig is en afsterf, of mieliekoppe wat nie behoorlik bestuif is nie of waarvan die pitte ingeduik of teruggetrek het. Louw sê in sulke gevalle sal daar ‘n afname in die oesopbrengs wees, maar die omvang daarvan sal afhang van wanneer die stres voorgekom het en vir hoe lank die stres geduur het.
Advies vir produsente
Louw versoek produsente om hulle landboukundige te raadpleeg om stres by plante hok te slaan. Hy raai ook produsente aan om grondmonsters te neem om vas te stel wat die grond se voedingstatus is, en om grondverdigtingstudies te doen om vas te stel of daar wel verdigtings in die grond voorkom en om dit op te hef.
Produsente word ook aangeraai om die regte plantdatums vir die verskillende gewasse te kies en om goeie vogbewaringspraktyke toe te pas. “Onthou naas grond, is vog ons belangrikste hulpbron in droëland-gewasverbouiing."