Agriculture
Landbounuus-podcast: Springkaanplaag op NK-plaas onder beheer─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:51 Tue, 10 Mar 2020
'n Springkaanplaag wat aangemeld is op 'n plaas in die Richmond-gebied in die Noord-Kaap is onder beheer en het nie versprei nie.
Die bedryfsbeampte vir ekonomie, handel, water- en omgewingsake by Agri Noord-Kaap, Janine Byleveld, sê springkane het onlangs in dié gebied, wat goeie reën gehad het, uitgebroei en die grasvelde op die plaas ingevaar. Daar is egter vinnig opgetree en in samewerking met die nasionale departement van landbou, is die nodige entstowwe toegedien. Daarmee saam sê Zandisile Luphahla, woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van landbou, daar is geen rede tot paniek nie. Verskeie opleidingsessies vir boere wat geldige kontrakte het om beheer toe te pas en gifstof toe te dien, vind nou plaas. Die eerste sessie vind eerskomende Donderdag in Postmasburg plaas. Boere van Ghaap, Griekwastad en Olifantshoek kan ook dié sessie bywoon.
Die nie-winsgewende maatskappy, Boere Droogtehulp SA, gaan onverpoosd voort met verskeie geldinsamelingsprojekte sodat droogtehulp steeds aan boere in droogtegebiede soos Kenhardt in die Noord-Kaap verleen kan word. Dié maatskappy moedig mense aan om hulle te ondersteun en eerskomende Saterdagoggend die Sannies-boeredroogtehulp se musiekfees in Bloemfontein by te woon. Die dryfveer agter Boere Droogtehulp SA, Chris van Beljon, sê dié fees word in samewerking met die Laerskool Sand du Plessis aangebied. Verskeie sangers soos Jakkie Louw, Dwayne Louw en Zak, sal ten bate van boere optree wat steeds swaar onder die droogte gebuk gaan. Van Beljon sê dié fees gaan vir groot vermaak sorg. Toegang is R100 vir volwassenes en R50 vir kinders bo die ouderdom van 14. Mense kan hul kampstoele en koelerbokse saambring. Kaartjies is beskikbaar by CompuTicket.
Daarmee saam pak 'n groep stappers die Boesmanland Camino van 313,9km in Mei aan om bewustheid te kweek oor die droogte in die Noord-Kaap. Die NG-kerk Noord-Kaapland, in samewerking met Agri Noord-Kaap, die Caritas-gemeenskapsfokus en Kerk Sonder Mure wil die geweldige humanitêre en geestelike nood in dié provinsie en omliggende gebiede beklemtoon. Volgens ds. Christo Jonck van Kuruman, wat betrokke by droogtehulp is, volg die roete van die camino die spoor van die droogte vanaf Calvinia tot by Garies. Om deel te neem aan dié staptog of om betrokke te raak by droogtehulp besoek die Facebookblad, Droogtehulp - NG Kerk Noord-Kaapland.
EN
OFM moedig luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbougemeenskappe te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan verkry en skenkings kan doen. Skakels van organisasies, soos Boere Droogte Hulp SA se droogteramphulpfonds, is op hierdie OFM-blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad.
OFM-nuus