Agriculture
Boere gevra om regte gif teen kommandowurm te gebruik─── 16:42 Wed, 26 Feb 2014
Dirk Kok - Croplife Suid-Afrika het boere gevra om slegs geregistreerde gif vir die bestryding van kommandowurms te gebruik en nié plaagdoders wat die natuur skade kan berokken en giftig is vir voëls en reptiele nie.
Dié beroep word gedoen nadat uitbrekings van kommandowurms in die Noord-Kaap, Noordwes, en Limpopo aangemeld is.
Die direkteur van die Griffon-gifinligtingsentrum, Gerhard Verdoorn, sê kommandowurms het kop uitgesteek in die Windsorton-Majeng-gebied, by Potchefstroom en ook rondom Letsitele.
Hy sê nog uitbrekings kan verwag word namate weersomstandighede gunstig raak vir eiers om uit te broei. Kommandowurms het verlede jaar in een van die grootste uitbrekings in dertig jaar in Suid-Afrika voorgekom en weiding en graangewasse in die Vrystaat, Noordwes, Limpopo en die Noord-Kaap verwoes.
Verdoorn kan gekontak word by 082-446-8946 of nesher@tiscali.co.za.