Agriculture
Meld veediefstal tjoef-tjaf aan met nuwe stelsel─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:32 Fri, 07 Mar 2025

’n Nuwe nasionale aanmeldingstelsel vir veediefstal is bekendgestel om veediefstal te bekamp.
Veediefstal is lank reeds ’n uitdaging vir boere in die Noord-Kaap, maar die jongste misdaadsyfers toon ’n merkbare afname – dit het jaar op jaar met 28% afgeneem. Dié neiging is ook in die Vrystaat (22,7%) en Noordwes (2,1%) waargeneem. Skape en bokke word steeds die meeste geteiken.
Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) en ander landbouorganisasies werk saam met die polisie en Agri Ops om veediefstal te bekamp deur middel van ’n nasionale aanmeldingstelsel vir veediefstal.
Die Earth Ranger-platform hanteer en verwerk inligting wat verskaf word om te verseker dat alle besonderhede van deelnemende boere vertroulik gehou word in ooreenstemming met die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, sê dr. Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die RPO.
Hoewel die platform sonder die polisie se medewerking bedryf word, werk die RPO nou saam met die polisie vir die uitvoering daarvan.
Earth Ranger, ontwikkel deur die Allen-instituut vir kunsmatige intelligensie (KI), is gevorderde sagteware wat historiese afstandswaarnemingsdata versamel, integreer en visualiseer, saam met intydse verslae van die veld.
Hoewel dit hoofsaaklik vir bewaring ontwerp is, word die platform ook gebruik deur verskeie nieregeringsorganisasies wat hulle met veiligheid op die platteland bemoei, omdat stropery en veediefstal dikwels met mekaar verband hou.
Veediefstal word gereeld nie behoorlik aangemeld nie of die korrekte protokol word nie gevolg nie, sê Maré. Die vernaamste doel van dié projek is om data oor veediefstal en verwante voorvalle in te win en dit op ’n kaart uit te beeld.
LEES OOK: Vrystaatse polisie wil stygende veediefstal, grensmisdaad opnuut hokslaan
Hoe werk die KI-stelsel?
Agt stappe word tydens aanmelding uitvoer, waarvan die eerste vyf verpligtend is:
1. Wie: Verskaf jou naam en kontakbesonderhede.
2. Provinsie: Dui aan in watter provinsie die voorval plaasgevind het.
3. Distrik: Verstrek die distrik se naam.
4. Polisie: Meld dit by jou naaste polisiekantoor aan.
5. Wat: Beskryf die tipe veediefstal en ander belangrike besonderhede.
Die volgende drie stappe is die GPS-ligging waar die voorval plaasgevind het, spesifieke besonderhede oor hoe die diefstal uitgevoer is en enige ander tersaaklike inligting.
Die RPO beklemtoon dat hierdie stelsel nie net help om veediefstal vinniger aan te meld nie; dit skep ook ’n waardevolle databasis vir wetstoepassingsagentskappe. Die doel is om die polisie te ondersteun in hul ondersoeke en om misdaadtendense beter te verstaan.
Boere en inwoners kan enige veediefstal of verwante misdade onmiddellik per WhatsApp by 071 515 2011 aanmeld.