On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Oos-Vrystaatse camino wil eindelik na hele provinsie uitbrei

───   10:10 Fri, 31 Jan 2025

Oos-Vrystaatse camino wil eindelik na hele provinsie uitbrei | News Article
Eastern Free State Pilgrimages and Adventures (Efspa) bied Sungazer-pelgrimstogte. Foto verskaf

“As jy loop, het jy hoop – dis wat jy ervaar wanneer jy een van die Sungazer-pelgrimstogte stap.”

Ria Grobler, ’n pelgrim en lid van die Krugersdorp-vrouestapgroep, sê ook: “Dis die skurwe grondpad onder jou voete terwyl jy langs plate kosmos stap en in verwondering is oor die natuur om jou. Berge, koppies, rotsformasies en landskappe, alles wat die Oos-Vrystaat so mooi en uniek maak. Dis ongelooflike roetes!”

Meer as duisend mense het al een van die roetes gestap vandat die pelgrimstog in 2016 begin is, vertel Renée Wolfaardt, ’n inwoner van Paul Roux wie se geesteskind en passie die Sungazer is.

Destyds was dit die vyfde pelgrimstog in Suid-Afrika. Vandag is daar sowat 20 camino’s in die land, waarvan 80% in die Wes- en Oos-Kaap is. Van 2019 tot verlede jaar het 836 pelgrims ’n Sungazer-tog afgelê. Hulle kom Oos-Vrystaat toe uit alle uithoeke van die land, Namibië en selfs Brittanje.

Berge, koppies, rotsformasies en landskappe maak alles die Oos-Vrystaat mooi en uniek. Foto verskaf

“Die Sungazer is nog altyd ’n besonderse tuiste vir natuurliefhebbers, ook vir mense wat seergekry het en heel of stil wil word in die seisoene van God se mooi skeppingswonders,” sê Wolfaardt.

“Daar’s pelgrims wat ’n behoefte het aan ’n gemakliker stap, wat ’n warm stort en goeie nagrus insluit. Oornagplekke op gasteplase is veilige hawens waar hulle onder die geknetter van vuurvlamme of in samesyn met medepelgrims rustig en gelukkig kan wees.”

Die afgelope jaar is besluit om ’n maatskappy te stig, Eastern Free State Pilgrimages and Adventures (Efspa), onder wie se sambreel die Oos-Vrystaatse camino’s ’n tuiste gevind het.


Hulle het verskeie togte of camino’s, naamlik die Sungazer-pelgrimstog (vyf stap- en een fietsryroete), die Qwaqwa-kultuurcamino (twee staproetes), die Maluti-bergcamino (drie stap- en een fietsryroete), die Sewe Fonteine-roeicamino en die Oos-Vrystaatse Roeicamino.

“Ons het die gevoel gekry dat meer mans sou belangstel in die nuwe roei-uitdaging omdat 90% van ons pelgrims … vroue is,” vertel Wolfaardt. “Ons dink paartjies sal hierdie camino’s geniet.”

Hulle verken damme in die omgewing en peins in die natuur oor die Skepper, Sy grootheid, Sy teenwoordigheid, Sy vrede en Sy leiding “wat ons in ’n dieper verhouding met Hom bring”.

Oos-Vrystaat se roetes word beskryf as verrassend en voortreflik. Foto verskaf

Efspa wil eindelik die hele Oos-Vrystaat en die res van die Vrystaat verken. Die camino’s strek van Qwaqwa tot Ficksburg, met nog moontlikhede in Ladybrand se rigting.

Die groot stap is ook al gedoen om nog ’n roeicamino, op die water van die Gariepdam, te begin waar pelgrims elke dag sowat 10 tot 15 km roei. Hulle doen verskillende eilande in die dam aan, soos by Manhattan Island en Christmas Island, en slaap snags op ’n huisboot.

Wolfaardt sê pelgrims het nuwe lewe in die Oos-Vrystaat kom ontdek en die hele, pragtige Vrystaat lê oop vir uitbreiding. Die roetes beteken baie vir die gebiede waar dit gevestig word; uiteraard is dit ook ’n ekonomiese inspuiting en bevordering vir plaaslike toerisme.

Renée Wolfaardt, eienaar en stigter van die Sungazer-pelgrimstogte saam met haar man, Ernst. Hulle is inwoners van Paul Roux. Foto verskaf

Efspa is dankbaar vir sy rol daarin, sê Wolfaardt. “Ons is opgewonde om pelgrims se lewe aan te raak en die Vrystaat, waarvan die Oos-Vrystaat (vir ons) die belangrikste fokus is, om dit aan almal bekend te stel.”

Elana Bettings van die Krugersdorp se vrouestapgroep sê: “Die Sungazer-roetes, waarvan ons nou al ’n paar gedoen het, is juwele. Geen stapper in Suid-Afrika kan hom ’n stapper noem as hy nog nie hierdie natuurprag, skoonheid en vars lug ervaar het nie.

“Die Oos-Vrystaat se skitterblou lug, witste wolke, vars lug, sandsteenberge en landskappe, netjies bewerkte boerderye en lande en die mooiste mense met ’n ‘gegronde’ hart het ons diep geïnspireer. Die roetes is verrassend en voortreflik.”

OFM Nuus/Susan Maré cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.